Local newsNews

Historiese Modimolle-huis trek nuwe baadjie aan

Inwoners van Modimolle het ’n ou huis met sy toegegroeide tuin in Kerkstraat se onlangse transformasie met groot belangstelling dopgehou.

Die huis spog nou met ’n splinternuwe baadjie wat herinner aan die trotse woning wat dit sowat ’n eeu gelede was.

Die huis is onlangs deur die Kranskop Dierekliniek gekoop vir hul praktyk en groot opknappingswerk is gedoen.

“Ons het begin navraag doen oor die huis se verhaal nadat soveel van ons kliënte vertel het dat dié huis ’n ryk geskiedenis het. Ons het gehoor dat een van die huis se oorspronklike eienaars die oupa van die Van Niekerks is wat steeds in die dorp woon,” het veearts dr. Marina Bredell gesê.

Sy bedryf die praktyk saam met dr. De Wet Barnard. Pieter van Niekerk, wat tans op Leeuwaarden boer, het bevestig dat die huis, wat op die hoek van Kerk- en Van Niekerkstraat staan, eens aan sy oupa Pieter Wynand Le Roux van Niekerk behoort het.

“Ek kry sommer heimwee. Die huis is so mooi gerestoureer,” het hy gesê.

Pieter se broers, Andries en Marius, woon en werk ook buite Modimolle op die familieplaas. Die Van Niekerks se verbintenis met die huis het begin nadat Oupa Piet vanuit Johannesburg teruggekeer het nadat hy in die rebellie van 1915 aangekeer is.

“My oupa, wat van Wellington afkomstig is, het in 1903 ’n advertensie vir ’n pos as plaasbestuurder op die plaas Vyebooms- poort op die Eersbewoondpad buite die dorp gesien,” het Pieter gesê. “Hy het sitrus aangeplant en die lande van kant tot wal vol mielies geplant. Die bure het hom gespot en gesê hulle wil sien hoe hierdie Bolander die mielies geoes en gelewer gaan kry.”

Hy het besef dat daar ’n koöperasie gestig sal moet word om te help met die bemarking. Hy het in 1909 stigterslid van die Waterberg-landboukoöperasie geword en was ook die eerste voorsitter. Met oupa Piet se terugkoms nadat hy tydens die rebellie gevange geneem is, het die polisie hom op die stasie ingewag.

Die eienaar van die plaas, wat gekant was teen die opstand, het gesê dat hy nie meer welkom daar is nie. Inwoners van die dorp het gehelp en sy trek op die plaas gaan haal.

“’n Ene dr. Dekema het ’n leë huis naby die familiehuis gehad waar die wit NG-kerk vandag is. Dit was daardie tyd ’n Massey Ferguson-garage. My oupa-hulle het daar gewoon totdat hulle in die ou huis kon intrek,” het Pieter vertel. “Die huis se erf het gestrek tot waar die Departement van Korrektiewe Dienste nou is. Dit was nie deel van die munisipaliteit nie, maar toe elektrisiteit aangelê is, was hulle verplig om by die munisipaliteit in te skakel.”

Omdat hy nie meer kon boer nie, het Oupa Piet hom met die politiek bemoei. Hy was later Lid van die Volksraad vir die Waterberge en het baie jare as senator gedien. Die Van Niekerks het Pretoria toe verhuis en die huis is daarna vir ’n tydperk as skoolkoshuis gebruik totdat sy broer Johan dit betrek het.

Oupa Piet en Ouma Issie (Malherbe) is ook die bekende skrywer Erika Murray-Theron se grootouers. Haar boek ’n Skerfie Glas handel juis oor haar ouma se lewe en haar tyd in dié ou huis. “As kind het ek male sonder tal in daardie ou huis gespeel. Ons het altyd gehardloop en in die gang af gegly. Ek is so bly dat die huis met liefde gerestoureer is,” het Pieter gesê. Die ou huis staan in goeie geselskap.

Daar naby is die ou woning van Gerhard Bakker wat in 1910 Bakkers Apteek op die dorp geopen het. Net ’n ent verder staan die huis van adv. JG Strijdom wat eerste minister in die laat 1950’s was. Hy het sy politieke loopbaan in die dorp begin.

Bredell vertel dat inwoners wat gehelp het met die herstelwerk, die taak behoorlik ter harte geneem het.

“Ons was bekommerd oor hoe ons die houtvloere gaan seël om te ontsmet. Die onderneming wat ons gehelp het, het daarop aangedring dat ons die oorspronklike vloere beskerm en net viniel bo-oor sit. Dit is net aan die kante vasgeplak sodat ons nie die hout beskadig nie. Die sakeman wat ons met die vensters gehelp het, het tot laataand gewerk om die vensters outentiek te laat lyk. Ons moes die dun 2 mm-glas met veiligheidsglas vervang en hy het tydsaam dun stafies hout gesny en geplak sodat dit weer soos voorheen lyk. Inwoners het met so baie plante hier opgedaag en ingespring dat ons kan tuin- maak. Die restourasie van die huis was ’n heerlike ervaring en ons is so dankbaar vir almal se hulp.”

Related Articles

Back to top button