Local newsNews

Outydse ‘padkafee’ by Nuwe Lewe-gemeente in Bela-Bela

Gee daardie oorwerkte kok in die gesin op Sondag 25 Oktober ’n ruskans en geniet ’n nostalgiese wegneemete by die Nuwe Lewe-aanbiddingsentrum in Bela-Bela se Smokey Cowboy-padkafee.

Kerkgemeentes het vanjaar landwyd weens die inperking van die Covid-19-pandemie in ’n benarde finansiële posisie beland, maar talle gemeentes het kreatiewe planne bedink om hul koffers aan te vul.

Die idee van ’n inrykafee (“roadhouse”) het by gemeentelede ontstaan en onder die bekwame leiding van past.

Michael Dippenaar en Hannelie Nieuwenhuizen het hulle gou gesien hulle kan ’n diens aan die gemeenskap lewer en in die proses ook broodnodige fondse genereer.

Die tema Smokey Cowboy is gekies en kliënte sal met heimwee kan terugdink aan die heerlike braaigeregte wat by hierdie outydse padkafees aangebied is.

“Mense kan die kos bestel en gaan afhaal of hulle kan in hul voertuie sit en ’n kelner sal hul bestelling neem en die watertandgeregte sal dan by die voertuig bedien word,” het Hannelie Nieuwenhuizen, organiseerder, aan Die Pos gesê.

“Dit is die eerste keer dat ons kerk so ’n projek aanpak. Almal is baie opgewonde om deel te neem aan dié unieke geleentheid. Ons het ook besluit om vir kliënte wat in cowboy-drag opdaag ’n gratis kolwyntjie te gee.”

Die padkafee word gehou op die kerkterrein op die hoek van Num-Num- en Apiesdoringlaan en sal oop wees vanaf 11:00 tot 14:00. Kerkgangers van ander denominasies kan gerus hul middagete daar gaan afhaal voordat hulle huiswaarts keer ná hul onderskeie eredienste. Vir navrae en bestellings kan mense vir Nieuwenhuizen bel by tel. 082 451 3456.

Related Articles

Back to top button