Local newsNews

Organisasie plant sitrusbome langs Modimolle se hoofstraat

Vyf jong lemoenboompies is op die sypaadjie voor die NTK-gebou in Modimolle geplant.

Die burgerregte organisasie AfriForum het op Dinsdag 6 Oktober dié bome as deel van hulle Ons Dorp-veldtog geplant vir bewusmaking dat inwoners self moet ingryp om hul dorpe in stand te hou. Die organisasie sal ook slaggate voor van die skole herstel.

“Die pad by die Waterbergskool vir CVO lyk baie sleg,” het die plaaslike tak se voorsitter, James van Zyl, gesê.

AfriForum sal ook teer aan die skool skenk. NTK het die potgrond en beenmeel geskenk en het onderneem om die bome te onderhou. Daar is reeds vantevore sitrusbome langs die hoofstraat geplant. Daar sal ook bome by die Kokanje-aftreeoord se ingang geplant word. Van Zyl het ’n beroep op nuwe intrekkers gedoen om die plaaslike tak te kontak.

“Van die mense het dalk elders in die land by ’n AfriForum-tak aangesluit en het nou hierheen verhuis. Dieselfde geld vir mense wat van hier af verhuis het.”

Inwoners wat wil aansluit, is ook welkom om hulle te kontak.

“Ons dink dit is belangrik dat inwoners inskakel en betrokke raak by hul gemeenskap. Die buurtwag is een voorbeeld. By AfriForum glo ons daaraan dat ons self moet inspring en doen wat die munisipaliteit nie doen nie. Ons moet eienaarskap van ons dorp neem,” het hy gesê.

Volgens Van Zyl het hulle talle klagtes ontvang dat die verkeersdepartement min wetstoepassing doen en sal hulle dié klagtes ondersoek. Vir meer inligting bel vir Van Zyl by tel. 082 575 6902.

Related Articles

Back to top button