Local newsNews

Inwoners is keelvol vir haglike toestand van Reitzstraatparkie

Inwoners wat in die omgewing van die openbare parkie in Reitzstraat in Bela-Bela woon, is keelvol vir die argelose houding van die plaaslike owerhede oor die verval van die parkie.

Altesame 74 inwoners het reeds ’n petisie onderteken om die Bela-Bela munisipaliteit aan te spoor om dringend aandag aan die situasie te skenk.

In­wo­ners is bekommerd oor straat­lig­te wat reeds geruime tyd buite werking is in die omgewing en sê die parkie word swak bestuur.

 

ADVERTENSIE / ADVERTISEMENT

 

Die groep is van me­ning dat dié houding misdaad in die omgewing laat floreer. Die Pos het reeds talle ke­re oor die toe­stand van die parkie berig. Inwoners in Driver-, Reitz, Lu­dorf-, Van Sta­den- en Robert­sonstraat word die ergste geraak.

Die toi­let­ge­riewe is in ’n haglike toestand en dit wil voorkom asof haweloses in die gebou oornag. Toegang tot die gebou word nie beperk nie. Die rommel in die parkie word reeds geruime tyd nie verwyder nie. Die Pos het al foto’s gepubliseer waar rondlopervee lustig tussen die vullis wei.

Die dam in die parkie is ook ’n bron van kommer. Inwoners kla dat die dam sleg ruik omdat mense dit as toilet gebruik. Daar is ook al kinders opgemerk wat sonder toesig in die dam swem. In die pe­ti­sie, waarvan Die Pos ’n af­skrif het, kla in­wo­ners dat die donker omgewing gunstig vir boosdoeners is en dat die parkie ’n broeiplek vir dwelm­han­delaars en pros­ti­tute geword het.

Daar word ook gereeld drank in die openbaar gebruik en daar is ’n gedurige lawaai, lui die petisie. Volgens die besorgde inwoners woon hawelose mense onwettig in die park, wat tot gevolg het dat belastingbetalers nie meer die vrymoedigheid het om met hul gesinne daar te gaan stap nie.

Inwoners is baie bekommerd dat die haglike toestand by die parkie hul eiendomme se waarde kan laat daal. Die groep eis dat die po­li­sie gereeld patrol­lies na die parkie onderneem en onwettige inwoners en boosdoeners moet verwyder. Hulle eis ook dat die parkie teen sononder gesluit moet word en dat die geriewe onderhou moet word.

Die peti­sie is reeds by die muni­sipa­liteit en by die polisie­sta­sie afge­gee en is deur die betrokke amp­te­nare on­der­te­ken. Die munisi­pali­teit het ant­woor­de op Die Pos se na­vrae be­loof, maar het teen druk­tyd nog geen terug­voer ver­skaf nie.


Baie dankie aan Pavecon sonder wie se hulp die plasing van dié aanlynberig nie moontlik sou wees nie.

Related Articles

Back to top button