Local newsNews

Bela-Bela se toerismebedryf maak planne

September is tradisioneel toerismemaand, maar vanjaar moes dié bedryf weens die Covid-19-inperkingsmaatreëls alle hase uit die hoed trek om te oorleef.

’n Spesiale saamtrek met rolspelers in die toerismebedryf is op Dinsdag 22 September by die Adventures with Elephants-reservaat buite Bela-Bela aangebied.

Die sprekers was Michael Makhubela, Bela-Bela se munisipale bestuurder, Ken Maud, voorsitter van Waterberg-toerisme, Riaan Maritz van die ATKV-Klein-Kariba-vakansieoord en Grow Bela-Bela Tourism, en Stanley Ngwetjana van die departement van plaaslike eko- nomiese ontwikkeling (Ledet).

Jacqueline Ferns, huidige Mev. Suid-Afrika, en David Schabort, top 10-finalis in vanjaar se Mnr. Suid-Afrika-kompetisie, het ook die verrigtinge bygewoon. Ferns het in haar toespraak gesê die toerismesektor skep werkgeleenthede en dra by tot die land se ekonomie.

“Danksy toerimse word natuurbewaring bevorder en word die fauna en flora in Limpopo beskerm. Die verantwoordelikheid rus nie net op mense in bewaringskringe nie, maar op elkeen wat die land en Limpopo hul tuiste noem. Die Waterberg bly ’n gewilde toerismebestemming.”

Maritz het op sy beurt gesê plaaslike toerisme en die ontwikkeling van die omgewing moet nou, meer as ooit tevore, bevorder word. “Toerime dra by tot die vooruitgang van die omgewing,” het hy gesê.

“Die toerismebedryf is ondanks die negatiewe uitwerking van die Covid-19-pandemie steeds positief en besef dat hulle moet saamstaan om toerisme in dié omgewing te verbeter. Wanneer almal betrokke is, kan die bedryf en die gemeenskap groter sukses behaal.”

Maritz sê dat kliënteverwysings is baie belangrik.

“Elke lodge, oord of diensteverskaffer kan vooruitgang beleef as die kliëntebasis gedeel word. Ons moet voorkom dat toeriste hul geld elders bestee.”

Maritz het gesê dit is moeilik om toekomsplanne in die bedryf te bepaal, want daar is talle bestemmings wie se grootste kliëntebasis uit buitelandse toeriste bestaan het.

“Dit is veral in hierdie eienaars se belang om hul produk aan te pas vir die Suid-Afrikaanse toeris.”

Hy het gesê dit is verblydend om te sien dat daar reeds meer toeriste in die Waterberg is. Die dag is afgesluit met ’n heerlike middagete en ’n pretervaring wat interaksie met die olifante ingesluit het. Die gaste het daarna die bekende Jerusalema-dans tussen die olifante aangedurf.

Related Articles

Back to top button