Local newsNews

Inwoners woedend oor dierekarkasse in woonbuurt

Inwoners in die omgewing van die Basie Wes­sels-parkie, direk langs die NG Warm­bad Wes-gemeen­te in Bela-Bela, was verstom toe ’n slegte reuk hulle na verskeie dooie dierekarkasse gelei het.

Die Pos het die omgewing verlede week be­soek en ’n dooi­e hond, dooie hoen­ders en ander vel­le en be­ne in die parkie opge­merk.

Een in­wo­ner het beweer die dooie diere word bedags daar af­ge­laai. Hy het aan Die Pos gesê hy het foto’s van die be­trok­ke voer­tuig wat kar­kasse daar afge­laai het.

 

ADVERTENSIE / ADVERTISEMENT

 

Inwoners van Bela-Bela kla sedert die begin van die grendeltydperk steen en been oor onwettige vullisstorting in die dorp en beskuldig ook die Bela-Bela-munisipaliteit dat hy nie sy huis hieroor in orde het nie.

David Ra­boro­lo, hoof van kom­mu­ni­kasie by die Be­la-Be­la-muni­si­paliteit, het by na­vraag aan Die Pos ge­sê dit is die munisipaliteit se plig om toe te sien dat in­wo­ners in ’n geson­de om­ge­wing woon.

“In­wo­ners het ’n grond­wet­like reg om in ’n omge­wing te woon wat nie gesondheidsgevare inhou nie. Daar is wetge­wing wat onwettige stortings soos dié verbied,” het hy ge­sê.

Die muni­si­paliteit is egter volgens hom ook uiters bekom­merd oor die aan­hou­dende voorvalle waar huis­hou­delike vul­lis onwettig gestort word, asook die toestand van die dorp se strate en openbare plekke wat vol rommel is.

“Dit skep ’n swak beeld van ons dorp.”

Rabo­rolo het ge­sê daar is nuwe wetgewing in dié verband wat eersdaags in die Staatskoerant gepubliseer sal word en ingevolge waarvan mense groot boetes opgelê sal word indien hulle vullis op onwettige plekke stort, aflaai of laat aflaai.

Hy het gesê selfs mense wat ’n enkele stuk rommel op ’n ander plek as in ’n asblik gooi, staar boetes in die gesig.

Bepa­lings oor die verwydering van karkasse van dooie diere sal ook in dié be­leid bekend­ge­maak word. Die muni­si­paliteit bly intus­sen steeds verant­woor­delik om dooie diere in openbare plekke te ver­wy­der.

“Die munisipaliteit versoek inwoners wat meer inligting het oor die onwettige storting van dierekarkasse om met An­drew Mohlala by die muni­sipaliteit in ver­bin­ding te tree.”

Raborolo het voorts ge­sê hy doen ’n beroep op inwoners om betrokke te raak by ’n langtermynher­win­ningsprojek wat moontlik later winsgewend kan word.

“Al is dit die muni­sipaliteit se taak om die dorp skoon te hou, is in­woners ook verant­woor­delik daarvoor om nie rommel te strooi nie.”

Moh­lala kan be­reik word by tel. 082 555 4229 of stuur ’n e-pos aan Mohlalaa@belabela.gov.za(.) Hy is weeks­dae van 07:30 tot 16:00 beskikbaar.


Baie dankie aan Pavecon sonder wie se hulp die plasing van dié aanlynberig nie moontlik sou wees nie.

Related Articles

Back to top button