Local newsNews

Geite en giere…

Wat gebeur in- en om die Waterberg?

David Schabort, oudleerder van Hoërskool Warmbad, is die afgelope week aangewys as een van die top 15-finaliste om die gesogte Mnr. Suid-Afrika-titel. Die kompetisie is erg deur die landwye Covid-19-inperkingsmaatreëls geknou, maar volgens die organiseerders gaan hulle weer volstoom voort en word Mnr. Suid-Afrika in Oktober aangewys. “Mense wat my ken, weet dat respek vir alle mense en die waarheid vir my belangrik is. Ek wil diensbaar wees vir my medemens en bydra tot die uitbou van ons land,” het Schabort aan Die Pos gesê. Mense kan vir hom stem deur MRSA93 te SMS na tel. 40439. Foto: Herman Steyn

 

Inwoners van Bela-Bela slaak ’n sug van verligting nadat die eienaar van die sogenaamde “spookhuis” in Ludorfstraat, waaroor Die Pos onlangs berig het, besluit het om ’n veiligheidsheining om die huis op te rig. Inwoners het gekla dat dié verwaarloosde huis ongewenste besoekers lok en die vergaderplek van haweloses, dwelmgebruikers en vandale geword het en dat okkultiese bedrywighede daar plaasvind. Die huis, wat naby Laerskool Warmbad se sportterrein geleë is, is sover vasgestel kan word die eiendom van ’n trust wat in Polokwane geregistreer is.

 

Kobie Breedt, ’n jarelange inwoner van Bela-Bela, verruil op Donderdag 17 September die Sonskyndorp vir Boksburg waar sy by die Trans50-aftreeoord sal tuisgaan om nader aan haar kinders te wees. Sy en haar man, Joos, het in 2002 in Bela-Bela afgetree. Joos is in 2006 oorlede. Kobie was vir jare by verskeie musiekprojekte betrokke en het as solosanger by die Hervormde Kerk se koorfeeste, Pinkster- en Kerssangdienste opgetree. Sy was ook betrokke by die Warmbadmusiekkring se fondsinsamelings.

 

Johan Botha (55), ’n voormalige verkeersbeampte van Bela-Bela, is verlede week onverwags oorlede. Volgens sers. Frans Maponya, polisiewoordvoerder, het Botha vermoedelik sy eie lewe geneem. Die polisie doen ’n nadoodse ondersoek en het aan Die Pos gesê geen misdaad word in hierdie stadium vermoed nie. Botha se familie was teen druktyd nie beskikbaar vir kommentaar nie. Geen begrafnisreëlings is bekendgemaak nie.

 

Die Bosvelders is op Donderdag 17 September onkant betrap toe die eerste lentereën onverwags oor Bela-Bela uitgesak het. Daar was geen teken van sambrele nie, maar voetgangers het gou skuiling gesoek voor winkels in Chris Haniweg. Die wolke het egter gou soos mis voor die son verdwyn nog voordat iemand daaraan kon dink om te begin pannekoek bak. Foto: Herman Steyn

 

AfriForum-buurtwaglede van die Noordstreek het op Vrydag 18 September aan ’n nasionale patrollie deelgeneem om verdagte optredes in die onderskeie gebiede te ondersoek. Altesame 2 684 lede, wat AfriForumlede en lede van die publiek ingesluit het, het deelgeneem. Die groep het die aand duisende kilometer afgelê en in 73 voorvalle opgetree. AfriForum het ’n beroep op lede gedoen om vir die res van 2020 sigbaarheid in hul omgewing te bevorder. Op die foto is buurtwaglede van Bela-Bela wat deelgeneem het. Voor is Willie en Maretha Gunther. Agter is Martin van Blerk, Johan Carr, Christo van der Heever, Gerhard Olivier en Jodie Walton.

 

Warmpatat: Die Be­la-Be­la-muni­si­paliteit het die af­ge­lope week be­gin om slag­ga­te in die dorp te herstel. Hoewel inwoners baie dankbaar daarvoor is, meen sommiges dat hulle maar hul harte vashou oor dié pogings. ’n Inwoner het Die Pos gekontak en gesê hy het gesien hoe munisipale werkers ’n gat naby Laerskool Warmbad se sportterrein met teer vul en daarna heen-en-weer met ’n gewone munisipale bakkie oor die nuutgevulde slaggat ry om dit te kompakteer. Die saak is by Ti­nus Ras, DA-wyks­raads­lid, as­ook Da­vid Rabo­rolo, hoof van kom­muni­ka­sie by die muni­si­paliteit, aan­ge­meld. Ras en Ra­boro­lo was albei ver­stom oor die be­werings en het be­loof om dit te ondersoek. Dié foto toon een van die slag­ga­te wat op dié onkonvensionele wyse herstel is.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button