Local newsNews

Thabazimbi groet pastoriepaar

Die Thabazimbi-gemeente van die Pinkster Protestante Kerk (PPK) het op Sondag 16 Augustus afskeid geneem van hul geliefde pastoorspaar, Dion en Belinda Cilliers.

Die egpaar verhuis einde September na Palm Beach in KwaZulu-Natal waar hulle beoog om ’n nuwe bediening te begin.

Die egpaar het sedert Februarie 2008 baie hard in die Thabazimbi-gemeente gewerk.

Die opknapping van die kerksaal en terrein getuig van hul harde werk. Die egpaar het hulle beywer daarvoor om hande te vat met ander gemeentes in die omgewing en dit was hul passie om die Evangelie in die gemeenskap te verkondig.

Die egpaar was altyd bereid om te help, te bid en te ondersteun. Belinda het baie inwoners bygestaan met geestelike berading.

Die egpaar wil graag hul dank betuig teenoor die vriendelike gemeenskap van Thabazimbi wat hulle die afgelope 22 jaar omarm het en hul hande versterk het in die laaste 12 jaar dat hulle as herderspaar in die dorp gewerk het.

Die egpaar het aan Die Pos gesê daar kan gewis nie nagelaat word om aan die Here lof en eer te gee vir Sy beskerming, voorsiening en versterking in hierdie tydperk nie.

Die beroepsproses is aan die gang en ’n nuwe herderspaar sal hopelik eersdaags verwelkom word.

Dienste en byeenkomste gaan ononderbroke voort by die huidige adres (Jourdanstraat 2, Thabazimbi) onder die bekwame leiding van pastore Gisela Joubert en Michael Dippenaar. Almal is welkom om PPK-Thabazimbi se dienste by te woon. Vir navrae skakel gerus vir Joubert by tel. 083 337 0539 of Dippenaar by tel. 079 525 3192.

Related Articles

Back to top button