Local newsNews

Onbewoonde huis maak inwoners moedeloos

Jong kinders daag mekaar uit om in die dag in die ‘spookhuis’ in te gaan en vandaliseer die plek dan verder. Die dak kan enige oomblik meegee weens die wankelrige balke en iemand beseer.

’n Onbewoonde huis in Ludorfstraat, Bela-Bela, het ontaard in ’n skuiling vir diewe, haweloses, vermeende dwelmgebruikers en nou blykbaar ook ’n plek waar satanistiese bedrywe hoogty vier.

Die Pos het op Woensdag 2 September ’n groep besorgde inwoners van die buurt ontmoet.

Van die inwoners het gesê hul nabygeleë eiendomme se waarde word negatief beïnvloed deur dié “hool” in hul midde. Met Die Pos se besoek was dit duidelik dat die huis al geruime tyd leeg staan. Daar is geen sprake van ’n heining om boosdoeners uit te hou nie.

 

ADVERTENSIE / ADVERTISEMENT

 

Daar is berge tuinvullis en rommel wat nie opgeruim word nie. Van die inwoners het gesê dié erf het ’n onwettige stortingsterrein vir ander inwoners se tuinvullis geword.

Die huis is vervalle en het al erg onder vandale deurgeloop. Die houtvloere is plek-plek stukkend en lei na tonnels onder die vloer. Daar is ook duidelike tekens dat termiete die houtvloere en -balke betrek het. Die vuil en gehawende toestand van die woning is egter nie die ergste nie.

Satanistiese tekens en boodskappe versier die eens spierwit mure en ontstellende boodskappe is orals uitgekrap. Daar is ook tekens van menslike ontlasting in die vertrekke.

Agter die huis is ’n vervalle swembad vol rommel die enigste teken van ’n eens lieflike tuin. Daar is ’n vervalle buitegebou wat lyk asof dit enige oomblik ineen kan stort.

“Ons sukkel deesdae om versekeringseise in te dien omdat ons aanhoudend besteel word. Ons is regtig moeg vir hierdie huis en vir al die vreemde karakters wat daagliks hier in en uit beweeg,” het van die inwoners gesê.

“Jong kinders daag mekaar uit om in die dag in die ‘spookhuis’ in te gaan en vandaliseer die plek dan verder. Die dak kan enige tyd meegee weens die wankelrige balke en iemand beseer.”

Inwoners het ook gesê hulle ly skade weens rotte wat in die rommel nesmaak en slange is ook al daar gewaar. Die gevaar van termiete wat na aangrensende eiendomme kan versprei is ook ’n bron van kommer.

Wat egter vreemd is, is dat die Bela-Bela-munisipaliteit aanhou om munisipale rekeninge na die eiendom te stuur, hoewel daar geruime tyd nog nie permanente inwoners was nie. Die Pos het so ’n rekening onder oë gehad.

Dit blyk dat die eiendom onder die eienaarskap is van ’n familietrust, waarvan die eksekuteurs in Polokwane is. Die rekeninge toon ’n agterstallige bedrag op basiese dienste en erfbelasting van meer as R120 000. Inwoners vra dat die polisie en buurtwag meer patrollies in die straat moet onderneem en dat booswigte aangekeer moet word.

Tinus Ras, DA-raadslid, het die huis die afgelope week saam met ’n paar amptenare besoek. Hulle het beloof om agter die kap van die byl te kom en gou werk te maak van die saak. David Raborolo, hoof van kommunikasie by die munisipaliteit, het Die Pos se navrae oor die huis ontvang en het onderneem om daarop te reageer.

Teen druktyd het ons egter geen kommen- taar ontvang nie.


Baie dankie aan André Kock en Seun sonder wie se hulp die plasing van dié aanlynberig nie moontlik sou wees nie.

Related Articles

Back to top button