Local newsNews

Dié hond is klein diabeet se beste vriend

“Wanneer Sage agterkom dat my suikervlakke val, ruik sy heeltyd aan my. As dit erger word, sal sy aan my met haar poot krap of my ma gaan roep,” vertel Mieke.

As ’n mens na dié twee kyk wat laf oor die grasperk hardloop, sou jy dink dit is net ’n meisie en haar hond.

Dié twee het egter ’n besondere storie om te vertel. Die tweejarige windhond, Sage, is sedert Januarie Mieke Oelofse (9) se mediesebystandhond wat vinnig laat weet as dié jong diabeet se suikervlakke gevaarlik laag val.

Die twee gaan oral saam. Skool toe, winkel toe en het selfs al Tafelberg se kabelkar en die Kasteel aangedurf as deel van hul opleiding. Mieke is ’n gr. 3-leerder aan Laerskool Vaalwater wat uitblink in sport en akademie. Volgens haar ma, Hannelie, is sy ’n tipe 1-diabeet vandat sy 11 maande oud is.

“Baie mense besef nie dat daar ’n verskil is tussen tipe 1- en tipe 2-diabetes nie. Tipe 1 is ’n outo-immuunsiekte en die liggaam vervaardig geen insulien nie. Ons moet elke dag insulien met ’n inspuiting toedien. Tipe 2 is ’n metaboliese toestand waar die liggaam nog ’n mate van insulien produseer. Leefstylveranderinge kan baie help en bykomende insulien word gespuit.”

 

ADVERTENSIE / ADVERTISEMENT

 

Ouers van diabetiese kinders weet dat dit ’n lang en spanningsvolle pad is om te verseker dat hul kinders ’n normale lewe lei, maar dat hul suikervlakke nie so ver val dat hulle in ’n diabetiese koma verval nie.

“Mieke dra ’n sensor, asook ’n pompie, maar soms verras dit ons as haar vlakke vinnig val. Sage bring vir ons groot gemoedsrus.”

Sage wag vir ons op die rusbank met haar groen werksbaadjie aan. Groot, sagte oë kyk intelligent langs haar lang windhondneus af. Sy het haar by die Oelofse-gesin aangesluit nadat ’n anonieme skenker die hondeskool Honey’s Garden in Kaapstad gekontak het om twee mediesebystandhonde te borg.

“Die koste om so ’n hond op te lei is sowat R100 000 en dit kos R50 000 om een aan te skaf. Ons was baie opgewonde toe ons die oproep kry!” “Honey’s Garden soek hul honde op ’n jong ouderdom by diereskuilings uit. Sage was in ’n baie swak toestand toe die opleidingskool haar gekry het. Sy was onversorg en vasgemaak aan ’n ketting. Ná baie liefde en goeie sorg was sy hul beste student.”

Hannelie vertel dat die twee maats onmiddellik ’n band gevorm het. Dit is duidelik te sien. Sage raak verveeld met ons gesprek en gaan haal ’n leë koeldrankbottel om Mieke te probeer weglok sodat hulle eerder kan gaan speel.

“Wanneer Sage agterkom dat my suikervlakke val, ruik sy heeltyd aan my. As dit erger word, sal sy aan my met haar poot krap of my ma gaan roep,” vertel Mieke. Sy is baie in haar skik dat haar hond kan saamgaan skool toe. Soos gidshonde vir blindes, word dié honde toegelaat in bykans alle openbare plekke.

“Leonard Vorster, hoof van die laerskool, het mooi aan al die kinders verduidelik dat Sage daar is om te werk en dat die kinders nie haar aandag mag aftrek of voer nie,” sê Hannelie.

Die Oelofse-gesin moet Sage se vaardighede opgeskerp hou en hiermee help pa Johan en boetie AJ. Wanneer Mieke se suikervlakke laag is, word ’n watte binne haar mond gevryf en in die vrieskas gebêre. Op ’n later stadium word dit uitgehaal en vryf hulle dit aan Mieke se arm sodat Sage reageer en in oefening bly. Waar slaap Sage? “Op my bed!” lag Mieke. Dit is juis snags wanneer hulle bekommerd is, verduidelik Hannelie.

Mieke word moeilik wakker en Sage het al telkemale Hannelie snags kom haal as sy onraad vermoed.

“Ons hoop dat ons bewusmaking kan skep oor dienshonde. Hulle verrig belangrike werk, maar baie mense weet nie dat hulle in openbare plekke toegelaat word nie.”

Sage se groen werksbaadjie word uitgetrek en sy hardloop laf oor die grasperk met Mieke kort op haar hakke. Elke hond kry sy dag.


Baie dankie aan Janneke Dykema sonder wie se hulp die plasing van dié aanlynberig nie moontlik sou wees nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button