Local newsNews

Bekende Dina Malan (82) oorlede

Vriende en familie het ’n staatmakervrou op Vrydag 4 September gegroet.

Die 82-jarige Dina Malan is op Donderdag 27 Augustus in die Unitas-hospitaal in Pretoria oorlede.

Sy is op die familieplaas buite Modimolle langs haar man ter ruste gelê.

Malan was getroud met die welbekende Jimie Malan. Die egpaar het hulle in 1975 in die Waterberg gevestig vanwaar Jimie Malanseuns Kwekery se belange behartig het. Hy het ook opgang in die wildbedryf gemaak en word as ’n pionier in dié bedryf bestempel.

Hy is reeds in 2000 oorlede. Dina het die afgelope 10 jaar in die Featherwoods-aftreeoord in Pretoria gewoon waar sy nader aan die meeste van haar kleinkinders was, het haar dogter Nadien Bosch aan Die Pos gesê.

Sy was bekend vir haar liefde en kundigheid vir tuine, fynproewergeregte, vlytige naaldwerk en binnehuisversiering. Haar groot passie was egter haar gesin.

Sy laat haar kinders, Ellalien Davey, Jacques Malan, Riana Heyneke, Nadien Bosch en haar skoonkinders, kleinkinders en agterkleinkinders na. Dr. Ernst Endres, wat die diens gelei het, het baie gepas Deuteronomium 32:10-11 as teksvers gebruik: “Soos ’n arend wat sy kleintjies uit hul nes skop, oor hul fladder en hulle vang op sy vlerke wat hy oopsprei.”

“Ons arendma Dina Malan se rykdom van liefde, toewyding en borrelende grasie laat vir seker familie en vriende met warm harte en ’n leeftyd se mooi herinneringe agter,” het Bosch gesê.

Related Articles

Back to top button