Local newsNews

Botaniese tuin kom dalk op berugte Alma-pad

’n Groep inwoners van Bela-Bela beywer hulle daarvoor om ’n botaniese tuin op die Alma-pad buite die dorp te vestig in ’n poging om die natuur vir die nageslag te bewaar en terselfdertyd te keer dat ’n onwettige plakkerskamp tot teenaan die dorp se woongebied uitbrei.

Tinus Ras, DA-raadslid, het die afgelope week ’n video versprei waarin gevra word dat inwoners die projek sal ondersteun om die oorblywende deel van Gedeelte 25 (die gedeelte wat van die dorpsreservoirs tot teenaan die Alma-pad strek) in ’n botaniese tuin te omskep.

’n Hofbevel is vroeër vanjaar bekom om ’n groep onwettige plakkers op Gedeelte 25 (die deel naaste aan die Tuin Tuiste-aftreeoord) te verwyder.

Daar is egter steeds ’n hele aantal grondbesetters wat onwettige sinkstrukture op die aangrensende stuk privaatgrond (Erf 1492) opgerig het. Inwoners het intussen besluit om ’n gedeelte van Gedeelte 25 op eie koste te omhein.

Die munisipaliteit het reeds mondelings toestemming daarvoor gegee, maar die projek sal afskop sodra skriftelike goedkeuring verkry is, het Ras gesê.

“Die notule van ’n onlangse raadsvergadering waarop goedkeuring gegee is vir die oprigting van die heining is bekom en die projek behoort eersdaags af te skop.”

Ras het huiseienaars gevra om die botaniese tuinprojek te ondersteun. Indien daar ontwikkeling op dié grond is, kan dit moontlike verdere besetting van die grond voorkom, het hy gesê.

Die botaniese tuin-idee is reeds in 2019 deur lede van die Wyk 1-wykskomitee voorgestel en aan die munisipaliteit voorgeleë. Ras is die voorsitter van dié wykskomitee.

Volgens hom moet daar nou eers ’n loodskomitee saamgestel word. Daar bestaan nie ’n botaniese tuin in die Waterberg-omgewing nie en hierdie omgewing is baie ryk aan bio-diversiteit en die fauna en flora behoort bewaar te word. Inwoners het die afgelope maande baie klagtes by Die Pos ingedien oor bome wat gestroop word vir vuurmaakhout. Johan Mills, voorsitter van die Bela-Bela-belastingbetalersforum (BBTF), is ook nou betrokke by die projek.

“Hierdie projek kan die bewaring van die flora van Limpopo op ’n wetenskaplike wyse vestig en bydra tot ons dorp as toerismebestemming en as poort tot die ervaring van die Waterberg-biosfeer en Limpopo.”

Dié tuin kan ’n aanwins vir belastingbetalers en die munisipaliteit word en toeriste, natuurliefhebbers en skoolgroepe lok om dié unieke plantegroei te kom besigtig, het Mills gesê. Hy het voorts gesê die idee is reeds deur die provinsiale departement van natuurbewaring verwelkom en word in beginsel deur die Suid-Afrikaanse Botaniese Instituut (SANBI) ondersteun.

“Ons moet egter kan bewys dat die projek beduidende steun in die gemeenskap geniet, dat ons die grond onder die trus- teeskap van SANBI deur onderhandelings met die munisipaliteit wil plaas en dat ons oor die kundigheid, toewyding en hulpmiddels beskik om hierdie visie uit te voer.”

Dié stuk grond sal met die nodige steun van plaaslike inwoners ook omhein word. ’n Petisielys word intussen rondgestuur waarop mense die beoogde projek kan steun.

Mills het gesê hoe meer mense dit ondersteun, hoe groter is die druk op amptenary om die ontwikkeling gunstig te oorweeg.

Meer inligting sal ná die loodsvergadering bekendgemaak word. Mense wat hul steun tot die projek wil voeg, en waardevolle bydraes in dié verband kan lewer, kan vir Mills bel by tel. 084 447 3148.

Related Articles

Back to top button