Local newsNews

Toekoms wink vir Sanet ná operasie

“My selfbeeld was baie swak oor die groot knop. Ek het dit maar probeer wegsteek onder my hare of onder ’n serp. Ek het mense weggestoot omdat ek nie goed gevoel het oor hoe ek lyk nie.”

Baie mense sal die jaar 2020 onthou as een vol uitdagings.

Vir Sanet Basson (18), ’n inwoner van die Abraham Kriel-kinderhuis in Modimolle, het vanjaar haar ’n tree nader aan ’n blink toekoms gebring.

Dié mooi donkerkop vee haar lang poniestert weg om ’n fyn litteken in haar nek te wys. ’n Sist bykans so groot soos ’n tennisbal is op Donderdag 13 Augustus verwyder.

 

ADVERTENSIE / ADVERTISEMENT

 

“Dit was só ’n groot verligting. My selfbeeld was baie swak oor die groot knop. Ek het dit maar probeer wegsteek onder my hare of onder ’n serp. Ek het mense weggestoot omdat ek nie goed gevoel het oor hoe ek lyk nie,” vertel sy.

Die sist het twee jaar gelede begin vorm, maar eers onlangs begin pyn.

“Dit het die heeltyd gevoel asof ek in toe deure vasloop. Die staatshospitaal sou my eers in 2021 kon help en ’n mens is skrikkerig omdat die wond in my nek sou wees. Ek het mense gesien wat groot letsels oorhou van soortgelyke operasies.”

Marlene de Villiers, die kinderhuis se bemarker, het ’n brief aan Jacaranda FM se Good Morning Angels op Breakfast with Martin Bester geskryf en hulle het ingespring om werk te maak van die probleem. Borge was gretig om Sanet te help.

“Sanet is ’n akademiese uitblinker en werk baie hard aan haar studies,” het De Villiers gesê.

Sy het reeds keuring vir onderwys by drie universiteite gekry. Sy sal graag vir ’n rigting in sakestudies wil studeer. Omdat sy akademies uitblink, het die kinderhuis vir haar ’n gedeeltelike beurs aangebied. Good Morning Angels het ’n verdere R10 000 geskenk.

“Die rekordeksamen is om die draai en dit is baie stresvol. Ek wil so graag goed doen,” het sy aan Die Pos gesê.

Sanet deel ’n huis met 11 ander meisies en stilte om te konsentreer is nie altyd daar nie. Sanet was nege maande oud toe sy in pleegsorg geplaas is.

Haar pleegouers is geskei toe sy ses jaar oud was en ná talle uitdagings in haar jong kinderlewe het sy op 14-jarige ouderdom by die Abraham Kriel-kinderhuis gaan woon.

Sy het ’n besluit geneem dat moeilike omstandighede haar nie gaan onderkry nie. Terwyl ons gesels, kom sit Wutomi Baloyi, ’n maatskaplike werker, met haar arm om Sanet en praat oor hoe hulle die studies vir haar makliker kan maak.

“This girl, né,” sê sy toe sy wegloop. “As dit nie vir die kinderhuis was nie, sou ek nie hierdie geleenthede gehad het nie en sou daar waarskynlik nie hulp vir die verwydering van die sist gewees het nie. Ek is hulle baie dank verskuldig,” het sy gesê.

Opwindende tye lê voor. Sodra die eksamens agter die blad is, kan sy uitsien na die matriekafskeid. Danksy die operasie, kan sy enige haarstyl kies. Dié papie is gewis besig om in ’n vlinder te verander.


Baie dankie aan Janneke Dykema sonder wie se hulp die plasing van dié aanlynberig nie moontlik sou wees nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button