Local newsNews

Magrietjies groet vir Jean

Een van die Magrietjies-hulpgroep — ’n vrywillige organisasie wat gratis hulp aan kankerpasiënte in Mookgophong verleen — se staatmakers is onlangs oorlede.

Jean Brooks het op 15 gematrikuleer nadat sy twee keer gepromoveer het (in gr. 2 en die destydse st. 8). Sy het op 19 haar studies as verpleegkundige voltooi.

Sy was ’n ywerige lid van die “Girl Guide”, ’n meisiesaktiwiteitsklub, en het ’n “Queens Guide” geword (op daardie stadium was daar slegs twee van dié gesogte toekennings in Suid-Afrika).

Sy het later by die Weermag aangesluit en as majoor uitgetree voordat sy haar by die Namibiese Polisiemag aangesluit en met die rang van luitenant-kolonel afgetree het.

Sy was ’n uitmuntende rolbalspeler en administrateur en was president van die Namibië-rolbalklub en het Namibië op die internasionale Olimpiese-komitee verteenwoordig.

Ná haar huwelik met Ron Brooks het sy na Mookgophong verhuis waar sy vinnig by die Magrietjies betrokke geraak het.

Sy was tot haar dood in Julie vanjaar ’n sleutelrolspeler van die organisasie. Die organisasie beskryf haar as ’n verpleegkundige en vriendin by uitstek.

“Ons het saam gelag en planne gemaak. Ons het saam gehuil en gebid. Sy het haar pasiënte met deernis en omgee versorg. ’n Oproep was nooit vir haar te vroeg of te laat nie. Jean, ons sal altyd jou glimlag en sonnige geaardheid onthou. Jy leef vir altyd in ons harte,” het Martie du Plessis van die Magrietjies gesê.

Related Articles

Back to top button