Local newsNews

Fokus op plaaslike toerisme: Geniet dit wat die Waterberg bied

As jy moeg raak vir die lewe in die stad, lui die woorde van ’n ou liedjie. Of dit nou dorp of stad is, die Waterberg is net die plek vir jou.

Dié gebied se gewildheid lê daarin dat ’n wye verskeidenheid toeristeaantreklikhede net ’n klipgooi vanaf Gauteng is.

Boonop is die natuurskoon en gematigde klimaat iets besonders.

Een van die gewildste aktiwiteite is die jagtogte gedurende die winter — menige pa en seun het hier al mooi herinneringe bymekaar gemaak. Dit is ook die lewensbloed vir ’n wye verskeidenheid ondernemings en plase in die omgewing.

Die Waterberg is vol mooi staproetes tussen die klowe, berg- fietsroetes, 4×4-uitdagings en plekke wat ryk voëllewe bied vir voëlkykers soos die Nylsvley- en Bataleurreservate. Daar is ook reservate wat toeriste die geleentheid bied om van naderby kennis te maak met leeus en selfs ’n olifant te streel.

In die somermaande lok die groot aantal oorde met hul helderblou swembaddens talle plaaslike inwoners, asook Gautengers. Hier kan gaste kies of hulle gemaklik op groen gras wil uitspan, of hul tente net neffens die wildlewe wil opslaan sodat hulle die beste bosgevoel moontlik kan kry.

Duisende gholfspelers slaan ook jaarliks af op topklasgholfbane soos Koro Creek in Modimolle, Elements en Zebula buite Bela-Bela, Euphorbia buite Mookghopong en die Legends-gholfbaan buite Mokopane. Natuurliefhebbers is in hul element in die Waterberg. Die groot vyf noem ook die Waterberg huis.

Die Waterberg Biosfeer wat buite Vaalwater lê bied ryke biodiversiteit met meer as 5 500 verskillende plantsoorte.

Volgens Unesco, die Verenigde Nasies se opvoedkundige, wetenskaplike en kultuurorganisasie, kom minstens 18 bedreigde of skaars plantspesies ook hier voor asook 11 bedreigde voëlsoorte, vier reptiele, vier visse, een skoenlapperspesie en 18 soogdiere. Die witrugnagreier, kransaasvoël, aardvark, bruinhiëna en swartrenoster is op die rooi datalys vir ernstig bedreigde spesies.

Dit dui op die belang- rikheid van bewaring in dié gebied. Nasionale parke soos Marakele in die Waterberg en die Krugerwildtuin, asook talle reservate, se inkomste kom grootliks vanaf toerisme.

Solank as wat dié plekke ekonomies volhoubaar is, kan hulle ’n veilige tuiste skep vir dierspesies — ook dié wat bedreig is.

Related Articles

Back to top button