Local newsNews

Dis weer tyd vir boslelie- bonanza!

In die Waterberg is dit die clivias, oftewel boslelies, wat eerste laat weet dat die lente hier is.

Die oranje-kleureprag wink reeds oral onder koeltebome in die dorpstuine. Ans Jacobs (82) van Modimolle is al jare lank bekend vir haar cliviakwekery.

Tussen haar duisende cliviaplante pronk die blomme in kleure wat wissel van oranje, geel, perske, brons en rooi. Dit kos ’n geoefende oog om die fyn detail in verskillende plante raak te sien.

Jacobs sê haar resep vir gesonde plante wat groot blomme dra is dat hulle jare lank al hul eie kompos maak van blare en beesmis.

Die plante kry ook vir die grootste deel van die jaar reënwater wat sy in tenks opvang. Sy gebruik nie kunsmis nie.

“Die clivias hou uit, al is dit droog. Die hoeveelheid water wissel van een keer elke twee tot drie weke na een keer ’n maand. Ons het in die winter baie min gegee, maar plante wat in kleiner potte is, moet meer gereeld water kry.”

Haar gunsteling uit al haar plante is een genaamd Lankgewag. Ja, talle van die clivias en hul nasate het name.

“Die plant het ses jaar lank geen blom gedra nie. Toe sy wegspring, oortref sy al die ander plante met 42 blomme oor ’n drie maande-tydperk. Dit was ’n fees,” het Jacobs gesê.

Inwoners wat haar tuin wil besoek, kan haar bel by tel. 082 372 0765.

Related Articles

Back to top button