Local newsNews

Vrouefederasie se lede skrik nie vir harde werk

Die potte en panne het behoorlik geprut tydens die grendeltyd soos lede van die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie (SAVF) in Bela-Bela gebak en gekook het om watertandgeregte voor te berei.

Die inperkingstyd het kosnood vir baie huishoudings gebring. Die groep omgeevroue van die SAVF se Bela-Bela-tak het die behoefte raakgesien en ingespring om etes teen bekostigbare pryse aan inwoners te verskaf. Susan de Klerk, SAVF-voorsitter, het gesê hulle het gemiddeld tussen 800 en 1000 etes per maand voorberei. Die geld wat hulle uit kosverkope gemaak het, het hulle in staat gestel om etes gratis aan minderbevoorregtes te verskaf.

“Die behoefte na gratis etes word minder soos wat inwoners weer tydens vlak 2 van die inperkingsmaatreëls kan terugkeer werk toe. Ons is egter steeds beskikbaar as iemand hulp nodig het,” het De Klerk gesê. “Ons was aangenaam verras deur die gewildheid van ons koeksisters tydens die grendeltyd. Ons weet dit is ’n bobaasresep en die lede het weekliks honderde koeksisters gebak. Ons kon nie voorbly nie. Dit lyk tog asof ’n soetigheidjie gehelp het in die moeilike tye.”

Die SAVF-lede se leuse is om met diensbare harte die gemeenskap te dien. De Klerk nooi almal om betrokke te raak. “Hoe meer hande, hoe meer diensbaar kan ons wees. Die manne wat ons in hierdie tyd fluks bygestaan het, se hulp is van onskatbare waarde,” het sy gesê. De Klerk het gesê die gemeenskap het hul taak vergemaklik deur ruim skenkings te gee.

“Die varsprodukte en kontantskenkings het ons in staat gestel om meer huishoudings te voed. Ons lopende uitgawes soos krag, water en gas is ook gedek.” Hulle bied ook nou elke Vrydag ’n markdag in die SAVF-saal, op die hoek van Ludorf- en Mentzlaan, aan.

Heerlike tuisgebak, handgemaakte kunsartikels en uitgesoekte wit olifant-artikels sal beskikbaar wees. Daar sal ook weekliks ’n spyskaart beskikbaar wees vir heerlike wegneemetes.

“Ons is uiters dankbaar teenoor die gemeenskap vir hul lojale ondersteuning en versoek hulle om ook ons markdae te ondersteun.” Mense kan De Klerk vroegtydig vir kosbestellings bel by tel. 082 925 9439.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button