Local newsNews

Deur dik en dun: Van stofstrate tot besige sakesentrum

Vernuftige sakelui doen al 154 jaar sake langs die hoofstraat deur Modimolle, voorheen Nylstroom.

Die stofstraatjie waar waens en perde eens spore getrap het, het plek gemaak vir ’n bedrywige dubbelbaan teerpad waar vragmotors, bakkies en motors heen en weer op dié belangrike toegangsroete tot die Waterberg rits.

Die afgelope eeu en ’n half het talle uitdagings gebring en sakelui het ten spyte van hindernisse, ook bloeitydperke beleef. Die Pos het na die beginjare van die dorp gaan kyk.

 

Emil Tamsen.

 

Die Voortrekkergroep, die Jerusalemgangers, wat Kranskop vir ’n piramiede aangesien het en die riviertjie wat daar vloei vir die Nylrivier, het die dorp sy naam besorg. Van die vroeë Trekkers en afstammelinge van die Mabua- en Kutu-stamme van die Matabele-nasie was van die eerste inwoners in die omgewing.

Een van die eerste handelaars, Ernest Olferman Collins, het in 1865 erwe op sy plaas Rietvlei uitgelê. Hy het grond aan die Hervormde Kerk en die Gereformeerde Kerk geskenk, wat steeds bakens in die dorp is. Die dorp het volgens oorlewering lank net uit vyf hartbeeshuisies, die landdroskantoor in ’n baksteengeboutjie en die Hervormde Kerk-gebou bestaan met baie mense wat op plase gewoon het.

 

Kerkgangers het van heinde en ver gereis om nagmaal in Nylstroom by te woon.

 

Soos wat die inwonertal toegeneem het, het die afstand tot in Pretoria ’n probleem geraak en nadat die Volksraad Nylstroom in 1866 die administratiewe sentrum van die Waterberg-distrik gemaak het, het die dorp begin groei. Die eerste winkel is in 1882 deur Emil Tamsen geopen. Dit was oorkant die pad waar Absa vandag is.

Die winkel was ’n algemene handelaar en drankwinkel. Die winkel het in die destydse koerant De Boerenvriend van 1894 geadverteer dat hulle boumateriaal en myngereedskap in voorraad het. Voorraad is by boere in die omgewing gekoop of geruil. Die hedendaagse drankwinkel op die hoek van Thabo Mbekiweg en Nelson Mandelarylaan het baie jare lank nog bekend gestaan as die Tamsen-drankwinkel. In die beginjare het handel meestal uit ruiltransaksies bestaan.

Die boek Nylstroom 1866 tot 1966 verwys na ’n interessante inskrywing in ’n boedelstaat se waardasie van 1871, waar twee perde meer werd was as ’n plaas in die Waterberg. Net soos wat die Covid-19-virus uitdagings vir sakelui en inwoners bied, moes vroeëre inwoners planne maak om moeilike tye te oorleef.

Hulle probleme laat vandag s’n egter na nietighede lyk. ’n Uitbraak van malariakoors in 1878 tot 1880 het na raming ’n derde van die Hervormde gemeente se 450 lede uitgewis. In 1882 was daar ernstige voedselskaarstes weens ’n verwoestende droogte.

 

Die Nylstroom Hotel in die hoofstraat het jare lank verblyf aan moeë reisigers gebied.

 

Nadat goud in 1885 naby Pretoria en die Witwatersrand ontdek is, was daar ’n tyd van vooruitgang, maar helaas het runderpes in 1896 uitgebreek en boere het bykans al hul vee verloor. Hulle het skaars van dié skade herstel, of die Anglo Boere-oorlog breek in 1899 uit.

Plase is geplunder en aan die brand gesteek onder die Engelse se verskroeide aarde-beleid. Veetroppe is vernietig en vroue, bejaardes, kinders en baie arbeiders is in haglikse omstandighede in konsentrasiekampe aangehou. Een van dié kampe was geleë waar Eenheid Primary School vandag is.

Die kamp is na Irene buite Pretoria geskuif nadat die sterftetal onder veral kinders ontstellend hoog was. Die oorlog het in 1902 tot ’n einde gekom en mense het teruggekeer en kon hul boer- derye weer opbou. Die bevolking in en om die dorp het weer begin toeneem.

Die eerste treinspoor het Nylstroom in 1898 bereik. Die Waterberg Landbouers Co-operative Society is in 1909 deur 103 boere gestig. Die geskiedenisboeke dui aan dat hul eerste vergadering by die Nylstroom Mineral Water Factory gehou is. Dié koöperasie was die voorganger van die hedendaagse NTK. Gerrit Bakker het in 1910 ’n apteek in die hoofstraat geopen. Die Bakkerspas buite Vaalwater is ook na hom vernoem.

 

Gerrit Bakker het reeds in 1910 die bekende Bakkers Apteek geopen. Die onderneming het vir 103 jaar sake gedoen met ’n Bakker aan die stuur.

 

Die apteek is in die 1950’s deur sy seun Anton en in die 1980’s deur sy kleinseun Gerrit oorgeneem, maar het intussen sy deure ná 103 jaar gesluit. Die Bakkers is steeds die eienaars van die Spar op dieselfde perseel in die dorp. Bakker was ook die eerste Ford-agent op die dorp.

Die boek Nylstroom 1866 tot 1966 vertel die staaltjie: “Toe Dr. Deekema sy eerste Ford by die plaaslike agent, Gerrit Bakker, gekoop het, was die voorwaardes dat hy slegs die motor sou koop indien dit al die driwwe van Pretoria na Nylstroom kon deurkom.

Die rit was suksesvol en die eerste Ford was op Nylstroom se paaie te sien.” Op daardie stadium was die dorp se paaie slegs wa-spore sonder enige brûe. Die era van uitdagings was steeds nie verby nie. Die Spaanse griep het in 1908 uitgebreek en kerkargiewe raam dat daar 174 weeskinders in slegs een gemeente agtergelaat is.

Die Vrouelandbou-unie het in 1928 ’n tak op Settlers gestig. Nog ’n tak is in 1949 op Nylstroom gestig. Die eerste teerpad is in 1938 gelê en die Nylstroomse Handelshuis het op 23 September 1939 begin handeldryf. In 1939 is die Donkerpoortdamskema teen ’n koste van £36 000 voltooi om die groeiende dorp van water te voorsien.

Die water is eers van 1959 af gesuiwer. Die FH Odendaal-hospitaal, wat nou die MDR-hospitaal is, is in 1957 voltooi. Die pad na Vaalwater en die eerste 10 myl (16 km) na Settlers is in 1959 geteer. Die Abraham Kriel-kinderhuis het sy eerste inwoners in 1959 verwelkom.

Related Articles

Back to top button