Local newsNews

Deur dik en dun: Ou Warmbad het ryke geskiedenis

De Bad, Het Bad, Warmbad en Badplaats is maar van die name wat na die hedendaagse Bela-Bela verwys.

Daar is reeds sedert 1854 na die helende kwaliteite van die warmwaterbronne in dié omgewing verwys nadat Coenraad de Buys die bronwater se medisinale waarde besing het.

Hoewel die dorp deesdae heelwat anders daar uitsien, reken ou inwoners dat die dorp se naam altyd met die warmwaterbronne verbind sal word.

Die geskiedenis toon dat van die ou Voortekkers nog voor die aanleg van Ohrigstad, Potchefstroom, Louis Trichardt en Schoemansdal die warmwaterbronne in die Warmbad-omgewing gebruik het. Dit was in die tyd van genl. Andries Hendrik Potgieter (1792-1852) se tweede strafekspedisie teen koning Mzhilikazi, oftewel Silkaats, waar die Voortrekkers die Matebele-koning uit die Magaliesberge verjaag het.  

Mense van regoor Suid-Afrika het Warmbad besoek om in die bekende helende warmwater te ontspan. Op die foto is ’n groot groep besoekers by die ou warmwaterswembaddens van die destydse oord wat vandag as Forever Resorts bekend staan.

Pres. Thomas Francois Burgers (1834-1881), die vierde Suid-Afrikaanse staatspresident, het in 1873 die Warmbad-gebied besoek en die voorstel gemaak dat dit as staatseiendom gekoop moes word. Warmbad was oorspronklik ’n plaas wat in die besit van Carl van Heerden was.

 

ADVERTENSIE / ADVERTISEMENT

 

Burgers het alles in sy vermoë gedoen om die Volksraad te oortuig om die belegging te maak en die Volksraad het uiteindelik in 1873 die grond, De plaats de Bad, onder staatsbeheer gebring en verdere dorpstigting het van daar af uitgebrei.

Die gebied is in 1882 amptelik as Hartingsburg herdoop, wat die Roodepoort-, Noodhulp, Het Bad- en Turfbult-gebiede ingesluit het. In die volksmond het die naam Warmbad posgevat danksy die warmwaterbronne. Die Britse regering het in 1903 die poskantoor na Warm Baths verander en in 1920 is die dorp weer as Warmbad geproklameer. Die dorp het erkenning as ’n magistraatsgebied in 1950 bekom. Die dorp het flink gegroei en woonbuurte, sakeondernemings en skole het die lig gesien.

Die ou dorpsdam is in 1940 gebou. Die Helende waters (vandag Forever Resorts) wat destyds as ’n oord gevestig is, het in die tydperk 1958-1959 reeds 260 000 besoekers ontvang. In die geskiedenis word daar telkens verwys dat mense van heinde en ver na die dorp gekom het om “te bad.”  

Van die bestaande geboue in Sutterweg is reeds in 1959 opgerig. Op die foto is die ou geboue waar Bell’s Cycles (langs Mica) vandag is, duidelik te sien. Net verder in die straat is die bekende Unie Slaghuis wat ook in ’n historiese gebou is.

Die dorp se sentrale sakegebied het gespog met handelsname soos Ford, Caltex, Chevrolet en Ferguson-trekkers, die Behrens-vulstasie, Warmbad Handelsdrukkers, die LJ Meininger-apteek, Wells en Herman-eiendomsagente, The National-bioskoop en Warmbad Vervoerkontrakteurs.

Boerdery het op die Springbokvlakte gedy onder die pioniersboere wat hulle hier kom vestig het. Van hierdie boere en hul nasate is steeds gerekende boere in die omgewing. Die Towoomba-landbounavorsingstasie is hier gevestig om die boerderygemeenskap van kundige raad te voorsien.

Die gunstige klimaat het groot sitrusboordaanplantings tot gevolg gehad en die omgewing se lemoene het wyd bekend geraak. ’n Gekombineerde skool het die gemeenskap gedien en in 1947 het die behoefte vir ’n hoërskool ontstaan en is Hoërskool Roxanna (nou Hoërskool Warmbad) gestig. Die skoolsaal was in daardie jare die middelpunt van gemeenskapsbedrywighede en toneelgeselskappe het die dorp gereeld besoek.

Die aanloopbaan buite die dorp is aangelê en die destydse Kempton Park Bus Service het besoekers vanuit die stede na Warmbad gevlieg. Die dorp het aan duisende besoekers akkommodasie verskaf en die dorp het in die 1980’s oor vier hotelle en verskeie blokke vakansiewoonstelle beskik.

Bela-Bela is steeds hoog op toeriste se lys van plekke om te besoek en die eko-toerisme in die omgewing het hernude stukrag in die dorp se besoekersgetalle gebring.

Volgens die onlangse sensus beslaan die Bela-Bela-area bykans 337 605 ha, wat Settlers, Radium, Rust de Winter en Pienaarsrivier insluit. Daar woon na raming ongeveer 76 296 mense in die dorp en omgewing. (Bron: Warm Baths / Warmbad: Brochure issued by the Municipality of Warm Baths Transvaal, 1959.


Baie dankie aan Janneke Dykema sonder wie se hulp die plasing van dié aanlynberig nie moontlik sou wees nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button