Local newsNews

Deur dik en dun: Hulle was die eerste handelaars van Naboomspruit (Mookgophong)

In ou dorpsjoernale word gemeld dat ’n ene Murray Jackson die volgende onthou: “Stein, a Jew, was the first storekeeper at Naboomspruit in 1905. His store was primitive. The shop was near the railway line, beyond George Turner’s store, towards Cornelius Lamprecht’s farm and items such as buck-sails and paraffin tins were for sale.”

Jack Hotine wat tydens die Anglo-Boereoorlog uit Londen gekom het, het volgens Jackson ook in hierdie tyd ’n winkel geopen.

Malcolm Babb het ook teen 1905 ’n winkeltjie in Naboomspruit gehad. Volgens die geskiedskrywer DF Van den Berg, het die plaas Naboomspruit aan Richard Curry behoort.

In die boek Naboomspruit 1910-2010: Eeu van Genade deur Mauritz Hansen word geskryf dat ’n gedeelte van die plaas reeds in November 1907 opgesny is in erwe deur die landmeter Jean P.F. Rocher. Hierdie ongeproklameerde dorpsgebied is in 1908 deur die “Waterberg Land Co.” aan “African Townships” verkoop.  

Hierdie is waarskynlik die vroegste foto van Naboomspruitstasie (Mookgophong) en is geneem ten noordooste van die stasiegebou nog voordat daar met die bou van die blokhuis begin is.

Volgens geskrifte van die Naboomspruit-stadsraad het die “Oceana Company” Naboomspruit in 1908 as dorp geproklameer en die dorp is uitgemeet deur die landmeter, ’n ene Richet, met strate en lane volgens die destydse moderne Amerikaanse model. Dit lyk asof Malcolm Babb die eerste verkoopsagent was.

Van die erwe is in Johannesburg verkoop deur Richard Curry. Die eerste 400 erwe is te koop aangebied. Cornelius J Lamprecht en sy vrou Anna Jacoba Lamprecht, gebore Kock, was die eerste inwoners van Naboomspruit.

Hulle het hulle in 1910 in die huidige Eerstestraat gevestig (waar Stein vroeër sy winkeltjie gehad het en waar daar later ook die eerste skooltjie aan die agterkant van die huis gebou is). Nadat ’n ene Phillip Cohen alles verloor het toe sy winkel in die nabygeleê Nylstroom afgebrand het, het hy ’n smouslisensie verkry en besluit dat Naboomspruit die potensiaal toon vir ’n nuwe onderneming.

Hy het handel gedryf onder die naam R.Cohen (sy vrou se naam was Rachel) en in 1910 ’n winkel deur ’n Kanadees, genaamd Seward, laat bou. Dit was ’n klein hout- en ystergeboutjie met twee vertrekke en ’n stoep.

Die voorste vertrek is gebruik as die winkel en die ander vertrek was die “huis”. Dit was vir ’n paar jaar die enigste winkel en was in Derdestraat (nou Hans van Rensburgstraat) geleë. Cohen was ook die slagter in die dorp en daar word vertel dat sy “skaapvleis “ glo gewoonlik boerbok was.

Hy het die hotel op die dorp gebou nadat die behoefte ontstaan het omdat die trein wat werkers en besoekers na en van die myne vervoer het, twee maal per nag by die stasie aangedoen het. Nog ’n vroeë handelaar was Hans Bodemer, uit Duitsland, wat vir ’n kort rukkie ’n winkel aan die oewer van Badseloop gehad het.

Hy was ’n interessante karakter met ’n goeie sin vir humor. Hy en Jerome Dennison, ’n nie-praktiserende advokaat, wat ook ’n baie belangrike rol gespeel het in landbou-ontwikkeling in die omgewing, het ’n kontrak verkry om houtmynbenodigdhede op groot skaal aan die myne te lewer.

Die volgende winkel is deur Edgar Armstrong opgerig nadat hy die hotel by Cohen oorgeneem het. Dit was langs die hotel aan die stasiekant en is rooi geverf. Die winkel het as die hotel se buiteverkope-plek gedien en was die eerste drankwinkel in die dorp.

Die gebou was ongeveer 3 x 4 m groot met ’n stoep skaars ’n meter breed. Dit was maar beknop en boonop het die fel westelike son die sinkgebou só warm gebak dat die alkoholdampe byna die kroegman, Percy Smith, ondergekry het.

Dié baanbrekerhandelaars het die weg gebaan vir verskeie sakeondernemings om te volg soos wat die gemeenskap se behoeftes gegroei het. — Inligting uit Mauritz Hansen se boek: Naboomspruit 1910-2010 Eeu van Genade.

Related Articles

Back to top button