Local newsNews

Deur dik en dun: Die lang pad van Naboomspruit tot Mookgophong

Die dorp Naboomspruit is destyds aangelê op die plaas met die naam Naboomspruit.

Die naam is ontleen van die naboom (euphorbia Ingens) wat eie aan dié omgewing is.

Die “Na” kom van die San-woord “gnap” wat “sterk” beteken (waarskynlik na aanleiding van die sterk sap of melk van die boom). Die Latynse naam “Euphorbia” kom uit die Griekse mito- logie — Euphorbius was koning Juba se geneesheer.

Die spesienaam “Ingens” kom van die woord “Gigantic” — in Afrikaans “groot” en verwys meer na die digte kruin as na die grootte.

In Engels word na die boom verwys as die “Candelabra tree” — ’n boom met ’n kandelaaragtige vorm. En waar kom die “spruit” vandaan? Na alle waarskynlikheid van die fonteintjie wat wes van die dorp, regoor die huidige gholfbaan, tydens reënseisoene in ’n stroompie ontwikkel het. Mauritz Hansen skryf in sy boek: Naboomspruit 1910-2010: “Eeu van genade” daar kan met redelike sekerheid aanvaar word dat die dorp Naboomspruit ontstaan het omdat daar in 1898 ’n spoorweghalte met die naam “Naboomspruit” langs die Pretoria-Pietersburg-spoorlyn opgerig is.

Só berig The Star van Saterdag 29 Julie 1939: “When the railway to the North was first build, a crossing loop was placed every 25 miles, and Naboomspruit was at one of these intersections.” Vandag bestaan daar nog sommige van die historiese geboue in Eerstestraat.

Die ou Naboomspruit Hotel was waar Waltkon-slaghuis vandag geleë is. Iets wat die dorp eiesoortig maak, is die woongebied wat uit nege lane en nege strate bestaan. Die dorp is bekend vir sy matige klimaat wat veral aanloklik vir pensioentrekkers is.

Gholfpark is een van die nuwe uitbreidings en in 2008 het die gesogte Euphoria-gholflandgoed met sy wêreldklasgholfbaan sy deure net buite die dorp geopen. Al is daar nie ’n groot inkopiesentrum nie, is dit vir inwoners maklik en gerieflik om hul inkopies in hul tuisdorp te doen.

Die warmwaterbronne is steeds baie gewild en lok jaarliks baie vakansiegangers wat in die wintermaande graag daar uitspan. Die gematigde klimaat en die volop fauna en flora in die omgewing het Mookgophong ook as ’n gewilde jagbestemming gevestig.

Verskeie vrugte- en groenteplase, asook hoenderboerderye en die Waltkon-vleisverwerkingsaanleg, verskaf werk aan duisende plaaslike mense. Mookgophong was oor baie dekades ook bekend vir die ikoniese Venter-sleepwaens wat daar gebou is. Die skole in Mookgophong bied uitstekende geleenthede aan leerders.

Hoërskool Hans Strijdom bring byvoorbeeld jaarliks duisende besoekers na die dorp met hul aanbieding van een van die grootste skolerugbygeleenthede ter wêreld, die Hansie-rugbyweek.

Related Articles

Back to top button