Local newsNews

Bela-Bela se Forever Resorts haal weer asem

“Die oord is — net soos alle oorde in die land — diep getref deur die grendeltydperk. Dit het ’n ontsettende impak op ons personeelkorps gehad,”

Inwoners van Bela-Bela was diep bekommerd omdat die groot hekke van dié dorp se bekendste baken, Forever Resorts, maande lank al dig toe staan.

Die dorp — wat jare lank “Warmbad” geheet het en ook só in die volksmond bekend staan — het juis sy naam gekry danksy die natuurlike warmbronne wat dié dorp wêreldbekend gemaak het.

Duisende mense glo steeds dat dié vuurwarm natuurlike bronwater helende minerale bevat.

Die oord skep werk vir honderde plaaslike mense en lok steeds jaarliks duisende toeriste na die dorp. Die oord was egter sedert die aankondiging van die grendeltydperk in Maart gesluit vir dagbesoekers en vakansiegangers en die Spur-restaurant wat in die oord geleë is, se deure is ook nog sedertdien toe.

 

ADVERTENSIE / ADVERTISEMENT

 

Die Pos het egter vandees- week verneem dat die oord nou weer, danksy die verslapping in die beheer op oorgrensreise, vir besoekers oopgestel is.

“Die oord is — net soos alle oorde in die land — diep getref deur die grendeltydperk. Dit het ’n ontsettende impak op ons personeelkorps gehad,” het Allan Hoffman, senior bestuurder van die oord, vandeesweek aan Die Pos gesê.

“Almal in die gasvryheidsbedryf het gehoop 2020 sal ’n goeie jaar wees en ewe skielik moes ons almal ons deure sluit en ons gaste se deposito’s terugbetaal.”

Hy het gesê die regering se besluit was egter in belang van die land se inwoners en om die verspreiding van Covid-19 te bekamp.

“Geen sakeonderneming, maak nie saak hoe sterk hulle finansieel staan nie, kan vir só ’n lang tydperk sonder ’n inkomste voortbestaan nie. Ons het geen ander keuse gehad as om die meerderheid personeellede huis toe te stuur nie. Hulle was afhanklik van die regering se hulpfonds en werkloosheidsversekering. Slegs die noodsaaklike personeel is behou en selfs hulle moes met ’n kleiner vergoedingspakket tevrede wees. Baie planne en besparings is gemaak om die oord se deure oop te hou.”

Die noodspan het volgens hom kliphard gewerk om die oord in stand te hou.

Hoffman het gesê hy is trots op dié span wat bereid was om ’n magdom take buite hul posbeskrywings sonder kla te voltooi.

“Ons kon ook daarin slaag om verbeteringe by die oord aan te bring wat ons binnekort met die gemeenskap sal deel. Ek wil nie graag die aap uit die mou laat nie, maar wil die verrassing vir ons besoekers hou,” het hy gesê. “Ons is dankbaar dat ons gaste nou weer oor provinsiegrense kan reis.”

Die oord se oornaggeriewe is weer oop. Dagbesoekers kan egter steeds nie in die warmwater baljaar nie en die oord se Hydro Spa en waterpark is ook nog toe, maar hulle hoop dat dit eersdaags weer beskikbaar sal wees.

“Ons sal weer dagbesoekers toelaat sodra die regulasies verder verslap word. Die oord se geriewe sal stelselmatig geopen word en personeel sal dienooreenkomstig terugkeer werk toe.”

Hoffman het gesê die Tacoma Spur-restaurant in die oord sal na verwagtig op Dinsdag 1 September hul deure onder nuwe eienaarskap oopgooi vir gaste.

• Vir navrae oor die oord, besoek Forever Resorts se webtuiste of skakel die kliëntedienssentrum by tel (014) 736 8500. Gaste kan inligting oor die oord se geriewe en die volledige Covid-19-voorsorgmaatreëls daar bekom.


Baie dankie aan André Kock en Seun sonder wie se hulp die plasing van dié aanlynberig nie moontlik sou wees nie.

Related Articles

Back to top button