Local newsNews

Agt bejaardes sterf weens virus

‘Meer inwoners sterf gewoonlik gedurende die wintermaande aan ander siektes. Ons het al in vorige winters 15 inwoners of meer aan die dood afgestaan. Hierdie seisoen het ons 25 sterftes gehad waarvan agt weens Covid-19 was. Dit bly egter baie hartseer.’

Die harte van inwoners van die Kokanje-aftreeoord in Modimolle was dié week gebroke nadat die agtste inwoner teen Dinsdag 25 Augustus aan die Covid-19-virus oorlede is.

Die Pos het verlede week berig dat die virus die aftreeoord hard getref het ten spyte van streng maatreëls om dit te verhoed.

Daar was verlede week 13 inwoners in die versorgingseenheid en nege personeellede wat positief vir die virus getoets is.

Van die pasiënte is na hospitale in Bela-Bela en Pretoria verplaas en van hulle is opgeneem in die MDR-hospitaal in die dorp wat onlangs spesifiek vir dié doel ingerig is. Anina Pretorius, die oord se bemarkingsbestuurder, het aan Die Pos gesê die departement van gesondheid het die pasiënte in die MDR-hospitaal terug na die aftreeoord toe oorgeplaas nadat hulle simptome verbeter het. “Die sewe pasiënte word in ons kwarantyn-eenheid versorg.

Die personeel van die versorgingseenheid word weekliks getoets wanneer skofte ruil om te verseker dat die virus nie oorgedra word nie.

Daar is nog geen nuwe positiewe gevalle aangemeld nie,” het sy gesê. Pretorius het gesê die sterftes het ’n negatiewe invloed op die ander inwoners van dié gewilde aftreeoord. “Mense is geskok en bang omdat daar groot vrees oor Covid-19, en alles wat daarmee saamgaan, heers.

Dié getalle is egter nie buitensporig hoog nie. Meer inwoners sterf gewoonlik gedurende die wintermaande aan ander siektes. Ons het al in vorige winters 15 inwoners of meer aan die dood afgestaan. Hierdie seisoen het ons 25 sterftes gehad waarvan agt weens Covid-19 was.

Dit bly egter baie hartseer.” Talle van die aftreeoord se personeellede het die afgelope week tuis geïsoleer.

“Die stremming op die personeel is hoog, want hulle wil nie iemand onwetend besmet nie. Ons het reeds voor die uitbreking van die virus maatreëls getref vir as ons bykomende personeel nodig het en kon nog mense inkry om ons te kom help.”

Inwoners in die versorgingseenheid mag reeds sedert die begin van die inperking nie besoekers ontvang nie en streng maatreëls geld vir toegang tot die oord.

Inwoners eet ook nie meer saam in die eetsaal nie, maar slegs een persoon per huis kan etes afhaal. Indien ’n inwoner positief toets, word hulle onmiddellik in die Kokanje-kwarantyneenheid opgeneem om te verhoed dat die virus verder versprei.

Die oord het sy eerste gevalle, ’n egpaar in hul sestigs, op Maandag 20 Julie aangemeld.

Related Articles

Back to top button