Local newsNews

Deur dik en dun: Wimpy al dekades lank deel van sakegemeenskap

Om ’n sakeonderneming se deure dekades lank oop te hou is een ding, maar om ’n eetplek te laat werk, sit beslis nie in enigeen se broek nie.

Die Wimpy is so deel van die Waterberg soos boerewors, braaivleis en warmbronne.

Die gewilde eetplek het takke in al die groot dorpe waar Die Pos versprei word. Die Pos het met die familie-eienaars van dié gewilde eetplek in Mookgophong gaan gesels.

 

Die Wimpy in Mookgophong twee jaar nadat Mike en Mariette Lindeque dit in 1985 gekoop het. Die man saam met Mike (regs) is nie bekend nie, maar sover vasgestel kon word, was hy van Wimpy se hoofkantoor.

 

Mike en Mariette Lindeque het die stadslewe in 1985 vir die platteland verruil en saam met hul drie dogters, Jozelle, Marelee en Vinette, na die destydse Naboomspruit verhuis.

“Mike het by ’n bank gewerk toe hy die advertensie in ’n Sondagblad gelees het dat die Wimpy in Naboomspruit te koop is. Ons het sommer die volgende dag deurgery en besluit om die koop te bevestig. Dit was dalk ’n impulsiewe besluit, maar dit het ons lewens ten beste verander,” het Mariette aan Die Pos gesê.

Sy wou aanvanklik nie na Naboomspruit verhuis nie, maar het later besgegee nadat Mike haar belowe het dat sy een keer elke drie maande in die stad by haar vriendinne kon gaan kuier en inkopies doen. “Ek het net een keer gegaan en nie weer die behoefte gehad om te gaan nie,” het sy vertel.

 

Mike en Mariette Lindeque, eienaars van die Wimpy in Mookgophong in 2002.

 

Hulle het aanvanklik in die destydse karavaanpark, waar die kliniek tans is, gewoon en sommer Wimpy toe gestap. Hulle het die onderneming by Jimmy Koen gekoop, wat dié nuutjie in Naboomspruit gevestig het. Die Wimpy-kettinggroep het in 1934 in die Verenigde State begin en was in Chicago gebaseer.

Die handelsmerk is in 1954 aan die Verenigde Koninkryk bekendgestel as “Wimpy Bar” en het in 1967 in Durban die eerste van talle restaurante in Suid-Afrika geopen. Die Lindeques het welbekend en geliefd in die dorp geword en Mike was elke dag op sy pos by die Wimpy.

Mariette sê hulle kliënte was hul motivering om goeie diens te lewer. Die egpaar se dogter, Marelee, en haar man, dr. HP Erasmus, het die onderneming in 2008 oorgeneem en is tans steeds die eienaars. Mike is vier maande daarna skielik oorlede. Marelee was maar vyf jaar oud toe haar ouers destyds die Wimpy gekoop het en dié bedryf is letterlik in haar bloed.

Sy is ’n gekwalifiseerde prokureur. “Die restaurant is harde werk, maar baie bevredigend. ’n Positiewe ingesteldheid is belangrik, want personeel, verskaffers en kliënte is soms ’n uitdaging. Ek het ’n passie en liefde vir die onderneming,” het sy gesê. Die Wimpy in Mookgophong is al die afgelope 35 jaar op dieselfde plek en is steeds ’n baken en bymekaarkomplek in die dorp.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button