Local newsNews

Dertien inwoners en nege personeellede van Kokanje siek

Die Covid-19-virus het, ten spyte van streng maatreëls, onrusbarend vinnig vastrapplek by die gewilde Kokanje-aftreeoord buite Modimolle gekry.

Kokanje het teen Dinsdag 18 Augustus 13 inwoners gehad wat positief vir die Covid-19-virus getoets het.

Nege personeellede het ook die virus onder lede gehad, het Anina Pretorius, die oord se bemarkingsbestuurder, aan Die Pos bevestig.

Tien van die inwoners is by die MDR-hospitaal in Modimolle opgeneem, twee is na die Phodi-kliniek in Bela-Bela oorgeplaas en een is per ambulans na ’n hospitaal in Pretoria geneem.

Altesame 24 pasiënte in die oord se versorgingseenheid het negatief vir die virus getoets.

Die MDR-hospitaal in Modimolle is onlangs spesiaal vir Covid-19-pasiënte ingerig met 89 beddens wat toegerus is met hoëvloeisuurstof en ventilators. Die provinsiale departement van gesondheid het aan Die Pos bevestig dat die betrokke Kokanje-inwoners by die MDR-hospitaal opgeneem is.

Teen druktyd is geen verdere navrae oor die hoeveelheid pasiënte wat tans in dié hospitaal versorg word, beantwoord nie. “Covid-19 het, ten spyte van die strengste maatreëls, in ons versorgingseenheid uitgebreek en reeds die lewens van twee van ons inwoners geëis,” het Pretorius gesê.

Inwoners in die versorgingseenheid, asook diegene in die selfsorgeenhede, mag reeds sedert die begin van die inperking nie besoekers ontvang nie en streng maatreëls geld vir toegang tot die oord. Inwoners eet ook maande reeds nie meer saam in die eetsaal nie, maar slegs een persoon per huis kan etes afhaal.

Volgens Pretorius is diegene wat positief getoets is, onmiddellik oorgeplaas na die oord se veldversorgingseenheid wat ingerig is om pasiënte te isoleer.

“Al die gesondheidswerkers het, en ondergaan steeds, elke dag die nodige siftingstoetse vir Covid-19-simptome.

Geen simptome is egter uitgewys nie en ons het alle personeel en inwoners van die versorgingseenheid deur ’n laboratorium laat toets. Die oord se eerste twee gevalle, ’n egpaar in hul sestigs, is op Maandag 20 Julie aangemeld. Dié twee inwoners, wat tuis geïsoleer het, het sedertdien herstel.

Related Articles

Back to top button