Bekende in bankbedryf sterf
Susan Prinsloo, ’n bekende van Modimolle wat dekades lank by Absa in die dorp gewerk het, is op 82-jarige ouderdom oorlede.
Prinsloo, wat haar loopbaan in die bankwese in die 1970’s begin het en in 1997 as bedryfshoof afgetree het, is in die Phodi-hospitaal in Bela-Bela oorlede.
Sy het die laaste paar maande gesondheidsprobleme ondervind en is ná ’n terugslag in die hospitaal opgeneem. Prinsloo het sedert haar aftrede op die plaas Doornfontein gewoon en was betrokke by die VLU en die plaaslike burgerlike veiligheid van die Doornfontein-boerevereniging.
Sy sal onthou word vir haar vriendelikheid, besorgdheid en besondere vermoë om kliënte, familie, vriende en haar gesin met liefde en sorg by te staan, het ’n familielid aan Die Pos gesê.
Sy het ná haar aftrede haar ma, Sannie Niemandt, en broer, Danie, tot hul dood versorg.
Haar neef, die rolprentregisseur, Peet Rossouw, is ook op Vrydag 10 Julie aan kanker oorlede. Prinsloo is reeds vanuit die Gereformeerde Kerk Waterberg begrawe. Ds. Christiaan Jooste, wat haar dikwels op die plaas en ook in die hospitaal besoek het, het die diens waargeneem.
Sy was sedert haar huwelik met Wolla Prinsloo, wat by die NTK-hoofkantoor en die grondbonebotterfabriek betrokke was en in 1992 oorlede is, in hierdie gemeente.
Sy laat haar seuns, Hein en Johann, skoondogter Suzann en kleinkinders Nadia, Danelle en Phillip agter.
Die gesinne bedank die Bosveld-gemeenskap en al Prinsloo se jarelange vriende vir die ondersteuning en medelye in hierdie hartseer tyd.