Local newsNews

Troeteldiere tydens grendeltydperk gered

Die inperkingstydperk was ook vir talle troeteldiere ’n baie slegte tyd met veral honde en katte wat sonder ’n heenkome op straat beland het.

Die Dierebeskermingsgroep in Mookgophong moes verskeie kere ingryp en hulp verleen om geskikte huise vir diere te kry.

Volgens Miekie Oberholtser, voorsitter van die groep, het mense sover as Malelane gekom om van die hondjies aan te neem.

Die diere is eers deur dr. Naomi Smith, veearts van die dorp, gesteriliseer of gekastreer voordat hulle na hul nuwe huise vertrek het.

Twee Bostonterrierreuns en ’n teef met drie kleintjies is in pleegsorg geplaas waarna hulle huise in Marble Hall, Mokopane en Malelane gekry het. Die staatsveearts het permitte uitgereik om die hondjies tydens die grendeltydperk te vervoer. In een geval is ’n Jack Russel van ’n naburige dorp in Eerstelaan afgelaai en die eienaars het bloot weggery.

Eers nadat besonderhede van die voertuig op sosiale media geplaas is, is die betrokke mense opgespoor. Die hondjie is erg beseer omdat hy volgens ooggetuies uit die voertuig geslinger is. Volgens Oberholtser is daar sedert begin Maart 30 honde, twee nonnetjiesuile en omtrent 20 katte, hasies en pluimvee gered en elkeen het ’n nuwe tuiste gevind.

“Elkeen van dié diere se stories is ’n suksesverhaal danksy die hulp van groepslede, veeartse en diereliefhebbers. Slegs een hond het nie ’n nuwe huis gekry nie waarna hy by die Dierebeskermingsvereniging (DBV) gehuisves is,” het sy gesê.

Foto’s van al die opteldiere is op WhatsApp-groepe geplaas waarna nuwe eienaars gevind is. Een van die suksesverhale is dié van Brakkies, ’n steekbaard wat naby die Olifant-standbeeld buite die dorp gevind is. Brakkies se foto is op die groep se Facebook-blad gelaai en Jake Botha van Pretoria sê die hondjie het dadelik sy hart gesteel. Hy het die nodige permit bekom en gery om hom te gaan haal.

“Brakkies leef nou in weelde saam met sy nuwe base en ’n ander hondekind, die Botha’s se Deense hond,” het sy opgewonde vertel.

Die groep is afhanklik van bydraes van inwoners. Oberholtser het groot lof vir almal se bereidwilligheid om te help en inwoners wat ruimskoots bydra. Indien enige verwaarloosde troeteldiere gevind word, kan die groep op hulle Facebook-blad gekontak word.

Related Articles

Back to top button