Local newsNews

Johan se radiostem nou stil

Die Bosveld het op Sondag 2 Augustus een van sy kleurrykste karakters en die bekendste stem agter ’n mikrofoon in Thabazimbi verloor.

Johan du Toit (72) is ná ’n lang stryd teen kanker oorlede. Sy vrou, Elsa, het in hul woonstel in Bosveld Oord gesê haar man het ’n moedige stryd gestry en nooit gekla nie
Du Toit was die bekende stem agter die mikrofoon by die jaarlikse Thabazimbi-skou.

Hoewel hy die visepresident van die Landbou- en nywerheidsgenootskap was, het hy dié bykomende taak van aankondiger met geesdrif aangepak.

Hy was ook die seremoniemeester en programleier by menige troues en fondsinsamelingsprojekte in die Bosveld. Hy het sy bynaam “Johan-baie-praat” met liefde gedra, want hy het altyd gesê hy verdien daardie naam.

Hoewel hy teen die einde bedlêend was, het hy steeds betrokke gebly by die organisasie van die beesteafdeling van die landbouskou.

As boerseun wat in die Derby-omgewing grootgeword het, was beeste altyd in sy bloed. Hy het ook graag op hoogte gebly van verskillende stoeterye se prestasies op verskeie veilings en skoue en graag die pragdiere se produksiesyfers en nageslag dopgehou.

Du Toit was in die vroeë tagtigerjare by Steyns Ford in Pretoria werksaam.

Dit was ook daar waar hy vir Elsa ontmoet het. Hulle is in 1981 getroud. Hulle het ’n seun, Dirk, wat ook ’n bekende gesig in Thabazimbi is waar hy vyf jaar lank bestuurder van die Wimpy was.

“My pa was baie lief vir kinders en jongmense. As my vriende en vriendinne by my kom kuier het, het my pa telkens by die jongklomp ingeskakel en lekker saamgekuier en gesels,” het Dirk aan Die Pos gesê.

Al die boodskappe wat hy ná sy pa se dood ontvang het, het hom weer laat besef hoe ’n gemaklike mens sy pa was.

Elsa bedank die gemeenskap vir al die ondersteuning wat sy en Dirk in hierdie tyd van die gemeenskap ontvang het. “Dit laat ’n mens besef hoe die mense om jou betrokke is by jou lief en leed,” het sy gesê.

Elsa rig ’n spesiale woord van dank aan dr. Andries Buys wat Johan regdeur sy siekte ondersteun het, asook ds. Roelf Smit vir die onderskraging wat hy gebied het.

Johan laat sy vrou Elsa, seun Dirk en twee kleinkinders agter.

Die roudiens is op Vrydag 7 Augustus om 11:00 vanuit die AP Kerk Thabazimbi. Die diens sal deur ds. Roelf Smit gelei word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button