Local newsNews

Inwoners keelvol vir “Reggie se beeste”

Inwoners van Bela-Bela sê owerhede steur hulle hoegenaamd nie aan die talle klagtes oor rondlopervee in die dorp en aan die buitewyke van die dorp nie.

Talle inwoners het die afgelope ruk vir Die Pos foto’s en video’s gestuur van ’n trop beeste wat bedags in die dorp wei. Die Pos is in besit van ’n video waarin ’n veewagter sê die eienaar van dié trop beeste wat hy bedags oppas, is ’n ene “Reggie” wat in die Koppewaai-nedersetting buite die dorp woon. Hy het gesê hy het “vergeet” wat Reggie se van is.

Inwoners mor intussen kliphard omdat die beeste hul beddings op die sypaadjies vertrap om by sagte groenigheid uit te kom. Hulle jaag ook die honde op hol en skeur vullissakke stukkend om by kos uit te kom. Een inwoner het gesê hy is verstom daaroor dat die munisipaliteit nie — soos wat jare gelede die geval was — grond aan boere vir weiding verhuur en darem op dié manier ’n inkomste genereer nie.

Ingevolge die provinsiale skutbeleid, wat sedert 2002 in werking is, kan munisipale owerhede ’n versoek aan die betrokke LUR rig om ’n skut op te rig. Dit word dan die plaaslike munisipaliteit se verantwoordelikheid om die skut te onderhou.

Wetgewing bepaal dat diere slegs geskut kan word indien rondlopervee iemand se grond betree, sonder toesig ronddwaal of ’n gevaar vir motorryers op ’n openbare pad inhou.

Wanneer die rondlopervee iemand skade berokken, moet die klaer ’n saak by die polisie registreer dat die diere privaat- of regeringsgrond betree het en eers dán kan die plaaslike skut gekontak word om die diere te verwyder.

Die skut moet ingevolge wetgewing ingerig wees om die diere te voer en veilig te huisves totdat die wettige eienaar die diere afhaal. Die eienaar moet dan ’n afkoopboete opdok. Indien die eienaar nie te voorskyn kom of nie die boete kan betaal nie, is die skut geregtig daarop om die vee te verkoop om kostes te verhaal.

Brig. Motlafela Mojapelo, provinsiale polisiewoordvoerder, het by navraag gesê die wetstoepassing berus in hierdie geval op die verkeersafdeling, maar die polisie kan ook hulp verleen.

“Vee wat rondloop is nie noodwendig ’n misdaad nie. Die polisie hanteer gewoonlik sake waar vee in ’n voertuigongeluk betrokke was, gesteel is, of wanneer hulle vervoer word sonder dat die bestuurder bewys kan lewer dat die vee aan hom of haar behoort of met toestemming van die wettige eienaar vervoer word. Die plaaslike gemeenskappolisiëringsforum se hulp kan ook ingeroep word om rondlopervee te beheer,” het Mojapelo gesê.

Hy het gesê indien mense se eiendom beskadig word, kan hulle ’n klag by die polisie lê en die vee-eienaar sal vir die skade aanspreeklik gehou word.

  • Die veilingshuis André Kock en Seun tree tans as wettige skut vir die omgewing op. Die Pos het met die bestuur bevestig dat inwoners hulle kan skakel wanneer rondlopervee hul eiendom betree of gevaar inhou, maar hulle moet eers die saak by die polisie aanmeld. André Kock en Seun beskik oor die nodige voertuie om die vee veilig te vervoer en is ingerig om die vee vir ’n tyd te huisves.

Related Articles

Back to top button