Local newsNews

Skool koes vir houe ná kamera-debakel

Hoërskool Warmbad moes verlede week koes vir die houe nadat ’n berig op ’n gratis aanlynnuus-platform geplaas is oor veiligheidskameras in die skool se badkamers.

Van die kommentaar onderaan dié berig was skokkend en selfs lasterlik.

Bewering is in die berig gemaak dat een van die kameras só geplaas is dat dit meisies se reg op privaatheid ontneem en dat hulle blootgestel word. Die bewering het groot polemiek ontlok.
Die Pos het die skool op Vrydag 24 Julie besoek en met Paul Liddle, skoolhoof, gesels.

Hy het Die Pos sonder huiwering genooi om self na die badkamers te stap en die gewraakte kamera se posisie te sien. Hy het ook die prosedure verduidelik wat gevolg word met die hantering van enige beeldmateriaal wat deur al die veiligheidskameras op die terrein vasgevang word.

Liddle het gesê die betrokke kamera is só geplaas dat dit glad nie op die privaatheid van leerders inbreuk maak nie. Die deel waar die meisies gewoonlik verklee, is afgeskort met gordyne en die toilette het almal deure. Dit is dus net die ingang van die badkamer wat gemoniteer word, het hy gesê. Die seunsbadkamers het ook kameras op dieselfde plekke.

Liddle het gesê die skool se nuwe kamerastelsel is in 2018 geïnstalleer nadat daar, in oorleg met ouers en met die beheerliggaam se toestemming, besluit is om die veiligheid op die terrein vir leerders en personeellede te verbeter.

Liddle het gesê dit slaan hom dronk dat iemand met só ’n storie na ’n nasionale nuusinstelling gaan sonder dat die persoon ’n oproep, of selfs net eens ’n navraag, tot die skool gerig het.

“Ons het tot nou toe geen klagte of navraag oor die kameras ontvang nie. Ons het die ouers destyds per brief gevra of hulle insette daaroor wil lewer, maar niemand het na vore gekom nie,” het hy gesê. “Sommige leerders is geneig om kattekwaad aan te vang en die skool het al in dié proses skade gely. Die beweging van leerders word op kamera vasgelê sodat die kwaaddoeners geïdentifiseer kan word en die beeldmateriaal by hul dissiplinêre verhore gebruik kan word.”

Liddle het gedemonstreer hoe die betrokke kamera in die meisieskleedkamer wel gedraai kan word sodat die videobeeld se aansig verander kan word.

Volgens hom word die beeldmateriaal van die kameras deur ’n vroulike personeellid gemoniteer en toegang tot die stelsel is beperk, aangesien dit in die administratiewe blok agter slot en grendel gehou word. Die skool beoog om maatreëls aan te bring dat niemand voortaan met die kameras kan peuter nie, het hy gesê.

“Die Covid-19-pandemie het ons personeel, leerders en ouers swaar getref. Dit is uiters belangrik dat alle sake wat die skool raak, korrek hanteer moet word. Dit is belangrik dat die skool en gemeenskap eerder in hierdie tyd opgebou word, as dat eensydige, negatiewe gerugte, wat die skool skade kan berokken, versprei word.”

  • ’n Skoolleerder het in reaksie op dié bewerings die volgende op sosiale media geskryf:“Daar is spesiale aantrekkamers agter in die badkamer. Ek is ’n leerder van Hoërskool Warmbad en dit is ongehoord om beskuldigings te maak oor geriewe wat julle duidelik nie ken nie.

    Die meisies trek nie daar aan waar die kameras wys nie. Hulle trek in die vertrekke aan waar die kameras juis nie wys nie. Ek as leerder van Hoërskool Warmbad skaam my vir van die bewerings van mense wat glad nie die feite ken nie.”

Related Articles

Back to top button