Local newsNews

Sjokoladeliefhebbers huil in hul hande oor staking van gewilde produkte

Verbruikers het met hartseer verneem dat Chocolate Log, Bar One Peanut, Milkybar Peanut en Milky Bar Double vanaf Augustus nie meer op die rakke sal wees nie.

Sjokoladeliefhebbers het die afgelope week die winkels ingevaar om vir oulaas van hul gunstelingsjokolade te bekom nadat Nestlé op Vrydag 17 Julie aangekondig het van hul produkte sal nie meer vervaardig word nie.

Nestlé vervaardig sowat 2 000 verskillende produkte wat sjokolade, Nescafé, Nespresso en Ricoffy insluit.

Verbruikers het met hartseer verneem dat Chocolate Log, Bar One Peanut, Milkybar Peanut en Milky Bar Double vanaf Augustus nie meer op die rakke sal wees nie.

Nog produkte waarvan sekere groottes nie meer vervaardig sal word nie, sluit in Nestlé se Peppermint Crisp (24×150 g), Kit Kat 2F White (36×20 g), Kit Kat mini bag White (21×220 g), Crunch Milk (24×80 g), Milkybar Smarties 8 (10×80 g), Milkybar Crackle 8 (10×80 g) en Quality Street Gift Box (12×200 g —8×500 g).

Die sjokoladereus het egter kliënte gerus gestel dat die immergewilde gewone Bar One, Peppermint Crisp, Quality Street en Milky Bar steeds op die rakke sal wees. Die maatskappy sê innoverende veranderinge is nodig om die onderneming te laat groei en dat hulle deeglike navorsing gedoen het en verskeie nuwe produkte sal bemark.

Lesers kan egter gerus ook by die huis eksperimenteer en hul eie pepermentgeur sjokolade maak.

Rika Kruger, bobaaskok van Bela-Bela, het die volgende resep met Die Pos gedeel en sê dit smaak soos die ware Jakob.

Bestanddele:

  • 4 eetlepels Demerara- of Muscovadosuiker
  • 2 teelepels peperment-ekstrak
  • 200 g gewone donkersjokolade

Metode:

  1. Meng suiker en ekstrak baie goed saam.
  2. Plaas sjokolade in bak oor kookwater en smelt. Sodra dit goed gesmelt is, gooi die suikermengsel by en roer vinnig deur.
  3. Kry ’n stuk bakpapier in ’n rolkoekpannetjie gereed.
  4. Sodra alles goed gemeng is, gooi die mengsel eweredig uit op die papier.
  5. Laat vir ongeveer 20 minute afkoel. Gebruik dan ’n skerp mes en sny in stukke.
  6. Wanneer dit heeltemal afgekoel is (of nadat dit in yskas was) verwyder die papier versigtig.

• Demerara- of Muscovadosuiker is by die meeste kruidenierswinkels beskikbaar. Volgens Kruger lyk dit baie na gewone bruinsuiker.

Related Articles

Back to top button