Local newsNews

‘Inry’ soos van ouds — maar vir kerk; nie fliek

“Dit was ’n aangrypende geleentheid. Die lekkerste was om te kon sing.”

Hoërskool Hans Strijdom in Mookgophong se onlangse baie suksesvolle inry-fliekaand het Rudolph de Vos, bemarker van die skool, laat besluit om ’n soortgelyke geleentheid aan te bied om die Naboom Tuiste vir Bejaardes se beursie te help aanvul.

Hy het ds. Jan Claassen van die Nederduitse Hervormde Kerk in die dorp genader en op Sondag 26 Julie is daar ’n inry-kerkdiens op die B-rugbyveld van die Hansies aangebied. Daar was altesame 99 voertuie by die diens en ’n kollekte is by die hekke opgeneem. ’n Stewige bedrag is ingesamel en aan die tehuis oorhandig.

 

ADVERTENSIE / ADVERTISEMENT

 

“Dit was ’n aangrypende geleentheid. Die lekkerste was om te kon sing,” het een van die kerkgangers op sosiale media geskryf. Sedert die inperking was dit vir baie gemeentes nie moontlik om eredienste te hou nie en inwoners het dié geleenhteid dus met ope arms aangegryp.

“Ons het nou gesien wat inwoners se behoefte is. Hulle wil nie net ’n preek ontvang nie. Hulle mis daardie gevoel, wat menslik onverklaarbaar is, wat ’n mens ervaar wanneer God in mense se harte werk. Daar was ’n stukkie heiligheid in dié byeenkoms,” het Claassen gesê.

“Dit was so ’n wonderlike diens en samesyn dat ons op Sondag 2 Augustus weer ’n inry-erediens sal hou en dan sal ds. Louis Pretorius van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in die dorp die diens lei,” het De Vos gesê.

Die kollektegeld sal aangewend word vir die Magrietjieskankerhulp in Mookgophong.

Die diens is nie net vir ’n sekere denominasie nie. Elkeen wat die behoefte het, is welkom. Daar is sosiale afstand tydens die byeenkoms gehandhaaf en streng by die inperkingsmaatreëls gehou.


Baie dankie aan André Kock en Seun sonder wie se hulp die plasing van dié aanlynberig nie moontlik sou wees nie.

Related Articles

Back to top button