Local newsNews

Thabazimbi se stygende virusgetalle wek groot kommer

Die Thabazimbi-munisipale gebied se 1 016 Covid-19-gevalle is die heel hoogste in die Waterberg-omgewing.

Volgens statistieke wat deur die departement van gesondheid verskaf is, is 614 van dié mense siek en het 401 reeds herstel. Statistieke toon dat slegs een persoon in dié omgewing aan Covid-19 gesterf het, hoewel ’n plaaslike noodgroep wys op een sterfte in Thabazimbi en twee in die Northam-omgewing.

Daar was die afgelope week konsternasie toe Hoërskool Frikkie Meyer, die plaaslike munisipaliteit, asook die plaaslike polisiestasie, hul deure tydelik moes sluit nadat mense positief vir die virus getoets is. Volgens alle aanduidings is Northan tans die dorp met die meeste aangemelde gevalle in dié distrik.

Die kantoor van die speaker van die Thabazimbi-munisipale raad het verlede week ’n mediaverklaring uitgereik waarin die publiek ingelig is dat sommige kantore vanaf Woensdag 15 Julie om 15:00 tydelik gesluit sal wees weens die feit dat die burgemeester, John Fischer, en speaker van die raad, Thane Hearne, positief vir die virus getoets is.

Die begrotings- en tesourierkantore het weer op Vrydag 17 Julie heropen terwyl die ander kantore weer vanaf Maandag 20 Julie oop was.

Al die munisipale kantore is reeds verlede Vrydag ontsmet.

Die burgemeester en die speaker is albei vir tien dae in selfisolasie, hoewel albei reeds op Vrydag 17 Julie beskikbaar was vir ’n spesiale virtuele raadsvergadering.

Hoërskool Frikkie Meyer was vanaf Woensdag 15 Julie gesluit nadat ’n gr.8- leerder positief getoets is.

Al die klaskamers is die afgelope naweek deeglik ontsmet en senior leerders was reeds op Maandag 20 Julie weer terug in die klas.

Die skool het aan Die Pos bevestig dat gr.9-leerders op Maandag 27 Julie terug by die skool verwag word en gr.8-leerders op Maandag 3 Augustus.

Colin Campbell, skoohoof, het sy dank teenoor Hannes Coetzee van Thaba SuperSpar uitgespreek vir die gratis ontsmetting van die skool se klaskamers.

Die Thabazimbi-polisiekantoor het nie Die Pos se navrae beantwoord nie, maar volgens ’n boodskap wat deur een van die amptenare van die Thabazimbi-polisiestasie op ’n sosiale mediagroep geplaas is, was die polisiestasie ook vanaf Woensdag 15 Julie gesluit. ’n Noodkontaknommer het deel van die boodskap uitgemaak. Die polisiestasie was op Maandag 20 Julie weer ten volle operasioneel.

Related Articles

Back to top button