Local newsNews

Publiek help landwyd met kospakkies

Die We Can-organisasie het verlede week ’n helpende hand uitgereik na die Rata Maatskaplike Dienstekantoor en dit vir hulle moontlik gemaak om talle kospakkies aan inwoners van Modimolle uit te deel.

Rata het 13 kantore in Gauteng, Noordwes, Limpopo en Mpumalanga en danksy We Can se insameling is 361 kospakke tussen die takke verdeel. Die kospakke wat hulle ontvang het, het bestaan uit 6 kg vars groente, 2,5 kg mieliemeel en 1 kg groentesop. Die Rata-kantoor in Modimolle het hul skenkings versprei met die hulp van Klub Helpmekaar.

Die nie-winsgewende We Can-organisasie het die lig gesien ’n dag voordat die Covid-19-grendelstaat ingetree het. Hulle loods insamelingsprojekte vir verskeie organisasies deur hul sosiale media platforms en gee die publiek die geleentheid om by te dra na gelang van hul vermoëns. Voedselprodukte kan aanlyn as ’n pakket gekoop word en dan aan die organisasie geskenk word.

Volgens die organisasie het hul reeds meer as 63 393 kg kos ingesamel en versprei met die 37 projekte wat hulle geloods het. Dit is gelykstaande aan 277 000 etes. We Can het in ’n mediaverklaring gesê die verlengde grendeltydperk het tot gevolg dat al hoe meer mense daagliks hulp benodig.

Inwoners wat die organisasie wil ondersteun, kan We Can op hul webwerf besoek by www.wecansa.co.za of hulle op Facebook of Instagram volg.

Related Articles

Back to top button