Local newsNews

Hoe rooier, hoe mooier: Die kleur wat skree en sing

Rose, bloed, robyne, revolusie en Afrika-sonsondergange ... die kleur rooi is beslis nie ’n draadsitter nie.

Daarom dalk dat dit een van die gewildste kleure onder bemarkers is wat kopers wil oortuig om hul produkte te koop — dit ontlok sterk emosies by mense. Die helder kleur staan gemaklik uit tussen ander minder flambojante kleure.

Kenners in kleursielkunde glo dat rooi vereenselwig word met passie, opwinding, energie, dringendheid en vreesloosheid. Die kleur bring ook negatiewe emosies soos woede en assosiasies met gevaar, pyn en waarskuwing by mense na vore. Die reaksie wat kleure by mense uitlok, hang egter van elke individu af.

Die warm kleur rooi (en sy neefs geel en oranje) is gewild onder kitskoshandelsmerke soos Kentucky Fried Chicken, Wimpy, McDonalds en Panarottis omdat dit glo eetlus aanwakker teenoor blou wat, volgens kenners, eetlus onderdruk. Die rede hiervoor, glo hulle, is omdat daar geen natuurlike blou kosse is nie.

Die koeler kleure blou en groen word dikwels geassosieer met vertroue, varsheid, lojaliteit, logika en betroubaarheid, maar ook met koue, onvriendelikheid en om emosieloos op te tree.
Rooi hou jou op jou hoede. Stopstrate, verkeersligte en waarskuwingstekens is nie verniet helderrooi nie. In die natuur waarsku sommige insekte en diere ook dat hulle giftig is deur hul helderrooi kleur.

Deur die geskiedenis het revolusionêre partye hulself die kleur rooi toegeëien soos die Jacobins in die Franse revolusie, die revolusie van die Bolsheviste in 1917 en die Chinese revolusie in 1949. Plaaslik dra die Economic Freedom Front (EFF) ook hul rooi berets. Rooikoppe het glo vurige temperamente en daar is net een kleur vir ’n vinnige Italiaanse sportmotor … bloedrooi.

Dis juis rooi se vermoë om uit te staan wat dit ’n gewilde kleur maak om produkte te adverteer. ’n Item wat uitstaan tussen sy mededingers word veel beter deur kopers onthou. Studies het gewys dat mense dikwels blitsbesluite maak oor watter produk hulle van die rak afhaal en dat hul besluit 90% van die tyd deur die kleur van die produk bepaal word.

As daardie meisie in die rooi rok weer jou oog vang … onthou, dit was dalk die rok en nie die meisie nie.

Related Articles

Back to top button