Local newsNews

Springbokvlakte groet geliefde boervrou

“Dit was ’n voorreg om haar as vrou, ma, ouma, tannie Wina of net Wina te kon ken.”

Vriende en familie het die afgelope week hartseer afskeid geneem van ’n geliefde boervrou van die Springbokvlakte.

Wina Groothof (78) is op Maandag 6 Julie tuis oorlede nadat sy ’n week vantevore geval het en haar gesondheid daarna verswak het. Sy was 55 jaar lank met Jan Groothof getroud en laat ses kinders agter naamlik Willem en Andries, wat steeds op die Vlakte boer, en haar dogters Lientjie Venter, Hillie Buys, Gerda Borcherds en Louisa Rossouw. Sy laat ook haar skoonkinders en 15 kleinkinders agter.

Groothof was die jongste kind van Andries Turkstra van die bekende Turkstra Bakkery in Potchefstroom. In haar begrafnisbrief neem haar kinders met liefde afskeid van haar en onthou die heerlike Cremoratert en Nuwejaar-oliebolle wat sy met ’n oop hand uitgedeel het. Hulle onthou ook haar sagte, blou oë wat die goeie in ander mense raakgesien het, goeie raad aan haar kinders en die groot liefde wat sy vir haar kleinkinders gehad het.

Groothof se begrafnis was op Maandag 13 Julie op Tuinplaas vanuit die Gereformeerde Kerk Springbokvlakte se gebou. Die diens is deur ds. Henk Stavast van die Gereformeerde Kerk Nylstroom waargeneem.

“Ons groet haar met ’n dankbare hart, want ons weet sy is by die Here. Dit was ’n voorreg om haar as vrou, ma, ouma, tannie Wina of net Wina te kon ken. Ons elkeen sal vir seker iets van haar saam met ons dra,” het haar seun, Andries, gesê.

Related Articles

Back to top button