Local newsNews

Infeksiesyfers hou aan styg

Infeksiesyfers het die laaste week teen ’n aansienlike tempo toegeneem.

Limpopo was lank een van die provinsies met die laagste Covid-19-infeksiesyfer.

Die syfer het egter die laaste week teen ’n aansienlike tempo toegeneem.

Marlene van Staden, burgemeester van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit, het gesê daar was teen Dinsdag 14 Julie een positiewe geval in Vaalwater, 13 in Modimolle en twee gevalle in Mookgopong. Lekkerbreek Primary School in Phagameng, die Modimolle-poskantoor, asook die Checkers in die ModiMall, se deure was almal tydelik gesluit nadat gevalle daar aangemeld is. Die hof in Modimolle is weer oop nadat hul deure verlede week ook vir twee dae gesluit was.

Volgens die syfers wat op Dinsdag 14 Julie deur die provinsiale departement van gesondheid bekend gemaak is, was daar 25 siek mense in die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit (uit 38 gevalle wat tot dusver aangemeld is), 38 in Bela-Bela (57 gevalle), 471 in Thabazimbi (594 gevalle), 41 in Lephalale (150 gevalle) en 82 in Mogalakwena (Mokopane) met altesame 128 gevalle wat tot dusver aangemeld is.

In die voorafgaande 24 uur is sewe gevalle in Modimolle-Mookgophong aangemeld, nege in Bela-Bela, sewe in Lephalale en 63 in Thabazimbi. Die Waterberg is die distrik in die provinsie wat die ergste deur die virus geraak word en het 967 gevalle gehad. Daar is tans 320 mense wat siek is en sewe sterftes is tot dusver aangemeld.

Ander munisipaliteite in die provinsie wat hoë infeksiesyfers toon is Polokwane met 522 aktiewe gevalle, Elias Motsoaledi-munisipaliteit (Groblersdal) met 100 gevalle en die Fetakgomo Tubatse-munisipaliteit met 121 gevalle.

Die syfers styg daagliks.

Related Articles

Back to top button