Local newsNews

Bekende kameraman sterf

Rossouw het onder meer Jamie Uys se bekende Funny People en Beautiful People verfilm en ook werk vir bekendes soos Daan Retief en Elmo de Wit gedoen.

Die bekende kameraman Peet Rossouw is verlede week oorlede op die Bosveldplaas waar hy sy kreatiwiteit en liefde vir die natuur uitgeleef het.

Die 82-jarige Rossouw is op Vrydag 10 Julie tuis oorlede nadat longvlieskanker ’n jaar tevore by hom gediagnoseer is. Hy het op ’n natuurreservaat buite Modimolle gewoon.

Rossouw het onder meer Jamie Uys se bekende Funny People en Beautiful People verfilm en ook werk vir bekendes soos Daan Retief en Elmo de Wit gedoen. Hy het talle dokumentêre programme vir die SAUK verfilm en was by meer as 200 produksies betrokke, het sy oudste seun, Mafunyane, gesê.

Rossouw se kreatiwiteit was egter nie net beperk tot filmwerk nie. Hy het ook ’n aantal boeke geskryf waarvan Koedoe, wat in die 1980’s vir skole voorgeskryf was, sy eerste was. Van sy werk is vir die Artes-toekennings benoem.

“My pa was ’n baie kreatiewe mens wat ’n inkomste gemaak het deur stories te vertel. Hy was steeds ’n sterk man toe hy met kanker gediagnoseer is. Hy het die laaste ruk sy kreatiwiteit uitgeleef in sy besondere vetplanttuin op die plaas,” het hy gesê.

Toe Die Pos hom vra oor sy ongewone naam, het hy dié staaltjie oor sy pa se lewe te vertel gehad:

“Met my geboorte was my pa besig met die verfilming van ’n dokumentêr in die Krugerwildtuin. Die veldwagters het daarop aangedring dat hy sy eersteling vernoem na die legendariese olifant Mafunyane wat hy verfilm het.”

Rossouw se verassingsdiens vind op Saterdag 18 Julie vanuit die Hervormde Kerk in Modimolle plaas. Koffie en ’n vingerete word later op die plaas bedien.

“My pa het soveel mense gedurende sy loopbaan leer ken en baie van hulle wil graag sy begrafnis bywoon. Ongelukkig is ons beperk tot net 50 mense weens die Covid-regulasies. Dit is ’n jammerte,” het sy seun gesê.

Rossouw laat sy seuns Mafunyane en Theo, sy dogter Alphie Penniston wat in Amerika woon, asook skoonkinders Doug Penniston en Karin Rossouw agter.

Related Articles

Back to top button