Local newsNews

Bejaardesorg: Die lewe gaan voort, sê Thaba-egpaar

Die Pos het ’n draai by Jan en Thea Bezuidenhout, bekende inwoners in Thabazimbi, gaan maak om te hoor hoe hulle die grendeltydperk ervaar.

Dit is duidelik dat dié egpaar glad nie in sak en as sit oor die verskerpte maatreëls nie. Die stoep is oorspoel met sonlig en die rekenaar is ’n stille getuie dat hulle graag op hoogte van sake bly. Thea erken sy hou baie van sosiale media en lees graag die nuutste inskrywings. Sy sê daar word ook gereeld ’n potjie kaart in die huis gespeel.

Jan is ook nie iemand wat kan stilsit nie en op 83 gebruik hy steeds daagliks sy motorfiets as vervoermiddel. “Motorkarre is vir die vroue,” het hy laggend gesê.

Jan hou hom besig met klein takies in en om die huis en sy meganiese agtergrond kom handig te pas wanneer mense raad vra oor geskikte boute en moere vir nutsmantake.

Hy het sedert sy aftrede in 1993 by die provinsiale paaiedepartement gereeld nutsmantake verrig. Hy het dakke herstel, loodgieterswerk gedoen en waar nodig ook elektriese instandhouding. Hy het homself beloof as hy die dag 70 word, tree hy af en bring gehaltetyd met sy gesin deur, het hy aan Die Pos gesê.

Thea, wat eersdaags haar 82ste verjaardag vier, het haarself voor die grendeltyd gereeld by die Kunstegrot in die dorp op die verhoog bevind. Haar eerste rol was in die “Kerkbasaar”. Daarna het die Grasweduwee gevolg en daarna was sy die Maankoningin in die kinderteater-opvoering van Drakelina en die Towerklip.

Thea sê sy verlang na al die pret wat hulle op die verhoog gehad het en hoop dat die grendelmaatreëls eersdaags sal verslap. Sy mis ook haar hekelgroepie wat gereeld byeengekom het.

Die egpaar het plek bespreek op ’n blommetoer na Namakwaland later vanjaar. Hul het reeds betaal en wag om te hoor of dit sal kan voortgaan.

“Dit is iets wat ek nog altyd wou beleef, maar die geleentheid het hom nooit voorgedoen nie totdat dat die kerk die toer gereël het,” het Jan gesê.

Albei stem saam dat hulle die kuiers saam met hul kinders en kleinkinders baie mis en vertrou dat hulle gou hul kuiers saam met familie en vriende kan hervat.

Thea het twee susters wat nog in Holland woon en sy hou maar deur die internet met hulle kontak.

Die egpaar stel ’n voorbeeld aan almal om met ’n positiewe gesindheid voort te gaan en ongeag die struikelblokke wat mag opduik, voluit te leef.

Related Articles

Back to top button