Local newsNews

Visse en voëls: Veeartsvissie al jare lank ’n toeskouer

Tjoepstil met oë wat niks mis nie, patrolleer die oranje vissie haar vistenk.

Sy (of dalk is dit ’n hy?) hou die siek diere en die veeartse deeglik dop. Dié Malawiese Cichlid is al etlike jare die selfaangestelde toesighouer in die Kranskop-dierekliniek se ondersoekkamer.

Die vissie is gesteld op hoe haar eenmanwoonstel lyk en wanneer haar tenk skoongemaak is, begin sy dadelik die klippies onderin skuif presies waar sy hulle wil hê. Sy duld geen klippies in die linkerkantse hoek nie.

Veearts Marina Bredell het die kuns van akwariums goed onder die knie met ’n 200-liter tenk waarin ’n papegaaivis, ’n paar “silver dollars” en ’n “clown loach” by haar huis rondswem.

“Die geheim van ’n suksesvolle vistenk is dat dit groot genoeg moet wees. Mense maak dikwels die fout om ’n te klein tenk te koop, veral wanneer hulle vissies vir kinders koop. ’n Te klein tenk, sonder ’n waterfilter en ’n pompie om vars lug in die tenk te sirkuleer, is ’n wrede manier om ’n vis aan te hou en hulle lewe gewoonlik nie lank nie. Goudvisse maak veral die water gou vuil.”

Sy sê ’n vistenk moenie van bo tot onder geskrop word nie en ’n mens moet nooit meer as ’n derde van die water op ’n slag ruil nie. Die klippies onderin die tenk speel ’n belangrike rol omdat voordelige bakterië daarin vorm wat help om die afvalstowwe van die visse af te breek en die watergehalte te verbeter. Plante help ook hiermee. Wanneer die tenk te veel skoongemaak word, word die ekosisteem versteur en kan die visse vrek.

“Wanneer ’n mens ’n nuwe akwarium kry, neem dit soms maande vir dié habitat om te vorm en die eerste visse vrek maklik. Wanneer jou ekosisteem, watergehalte en temperatuur reg is, word die visse nie sommer siek nie,” het Bredell gesê.

Sy koop gefiltreerde water vir haar kleiner vistenk. Wanneer sy kraanwater vir die groter tenk gebruik, voeg sy ’n doepa by wat die chloor en ander onsuiwerhede neutraliseer.

Dié stokperdjie het wêreldwyd miljoene aanhangers en die teel van spesifieke visspesies met unieke kleurpatrone is ’n kuns.

Die Malawiese Cichlid is een van ’n groot verskeidenheid Cichlid-spesies. Dié visse het hul oorsprong in die groot mere van Afrika en is gewild onder visgeesdriftiges omdat hulle van die helderkleurigste visse is om ’n tenk mee op te helder. Elke vis het unieke kleure en patrone. Die Malawiese Cichlid is ’n aggressiewe vis en nie alle soorte visse is goeie pasmaats in ’n tenk nie. In die natuur woon hulle in klipperige gedeeltes en om dit na te boots kan ornamentele klippe in hul tenks gepak word.

Vistenkliefhebbers meen nie verniet ’n weldeurdagte, kleurvolle vistenk is soos ’n lewende skildery nie.

Related Articles

Back to top button