Local newsNews

Visse en voëls: Lok só wilde voëls na jou Bosveldtuin

Talle Bosvelders wat die afgelope tyd tot hul eie erwe beperk was, het weer met nuwe oë na die talryke voëlspesies in hul tuine gekyk.

Die Pos het by die Bosveld Voëlklub gaan kers opsteek oor hoe om voëls met smulhappies te verwelkom.

Jan van Biljon, klubvoorsitter, het gesê daar is minstens 440 voëlspesies in die Waterberg-omgewing. Sowat 250 spesies is eie aan die omgewing en die res kom seisoenaal hier voor.

“Die meeste inwoners kan verwag om gereeld tot 60 verskillende spesies gereeld in hul tuine te sien as hulle kos en water vir die geveerde vriende beskikbaar het. ’n Goeie voëlspesiegids, soos die nuwe Sasol 5-handleiding, is ’n goeie hulpmiddel.”

Die eerste stap is om ’n lekker voëlbad en verskeidenheid saadhouers aan te bring. Volgens Van Biljon kan voëls hoofsaaklik in drie groepe verdeel word: saadvreters, insekvreters en vrugtevreters. Voëls soos suikerbekkies is van nektar afhanklik.

“Voëls kan gevoer word deur eenvoudig ’n bakkie gemengde voëlsaad buite te plaas. Sodra die saadvreters die saad ontdek, sal hulle gereeld kom kyk of daar saad is. Daar is ’n verskeidenheid handgemaakte saadhouers op die mark.”

Mense kan dan verwag om spesies soos geeloog- en bandkeelvinkies, gryskopmossies, rooiborsduiwe, sysies en vuurvinkies in die tuin te sien.

“Vir die vrugtevreters kan ’n mens daagliks ’n gesnyde appel uitsit. Ander vrugte soos papaja, pere en lemoene is ook gewild, maar die vrugte moet vars wees. Kwêvoëls, tiptolle, rooikop- en kuifkophoutkappers, glasogies en geelborswillies sal dit kom vreet,” het hy gesê.

“Vir die insekvreters kan meelwurms by die troeteldierwinkels gekoop word. Plaas ’n handvol in ’n bakkie buite en die tiptolle, houtkappers en selfs mikstertbyevangers sal hiervoor kom aansit.”

Beenmeel is by slaghuise beskikbaar en die voëls sal smul daaraan.

Voëls soos tiptolle en houtkappers is omnivore en vreet dus vrugte en insekte.

Van Biljon het voorts gesê suikerbekkies en spesies wat nektar drink, kan met suikerwater gelok word. Bottelnekke met gebuigde tuite is gepas vir hul klein bekkies.

“Die suikermengsel moenie te soet wees nie. Maak die mengsel van vier nie-opgehoopte eetlepels suiker per 750 ml water aan. Gebruik die afgekoelde water uit die ketel om van soveel moontlik chemikalieë in die water ontslae te raak. ’n Druppeltjie rooi natuurlike voedselkleursel kan bygevoeg word om die water aantreklik te maak, maar dit is nie noodsaaklik nie.”

Die witpenssuikerbekkie, swartsuikerbekkie en glasogies sal beslis gelok word, maar voëlkykers sal ook verras word met ander skaarser besoekers.

Van Biljon waarsku dat mense nie kunsmatige versoeters moet gebruik nie, want dit kan die voëls vergiftig.

Onthou ook om die kos só te plaas dat troeteldiere nie die voëls bedreig nie. Plaas die kos elke dag op ’n spesifieke tyd uit en sien hoe gou leer hulle die roetine aan.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button