Local newsNews

Visse en voëls: Jason het ’n passie vir visse

“Ek is baie lief vir my visse en wil graag eendag by die see gaan woon.”

Wanneer Jason van Eeden, ’n matriekleerder van Hoërskool Hans Strijdom in Mookgophong, oor sy passie vir visse praat, raak hy skoon opgewonde.

Jason het aan Die Pos vertel hy was in gr. 2 toe hy vir die eerste keer gaan visvang het en net daar is sy belangstelling in vissoorte, hul habitat en gewoontes geprikkel. Hy het later saam met sy gesin naby die see gewoon en daar het hy seevisse begin aanhou. “Ek het altyd gesê ek wil ’n visserman word, maar het eers later agtergekom wat dit beteken en dat ek eintlik ’n marinebioloog bedoel het,” het hy vertel.

Hy het tans 12 visse in ’n tenk, maar sy kop staan steeds na groter visse. Hy het vier silwer dollarvisse, drie engelvisse, een “Black Shark”, ’n “Rainbow Shark”, ’n “Sailfin Molly”en twee alg-eters.

“My gunstelingvis is die Oscar-spesie wat ’n karnivoor is wat ander visse, asook bloedwurms, maalvleis en meelwurms vreet,” het hy gesê.

Volgens Jason verg visse as troeteldiere meer as om net vir hulle viskos en water te gee.

Die watertemperatuur, korrekte skoonmaakprosedures van die tenks, chemikalieë, alge en bakterië is alles faktore wat in ag geneem moet word om ’n gunstige habitat vir visse te skep.

Kimmy Cawood, nog ’n Hansie-matrikulant, het ook van jongs af ’n voorliefde vir visse. Sy het ’n erfstuk-vistenk van ’n tannie gekry. Die pragtige tenk is deel van ’n boekrak. Die vissies daarin is African Red Jewel Cichlid en ook oranje papegaaivissies.

“Ek is baie lief vir my visse en wil graag eendag by die see gaan woon. Die vistenk met die water en visse verleen ’n rustigheid aan ons huis en laat ’n mens sommer goed voel,” het sy gesê.

Die rooijuweel Cichlid (Hemichromis bimaculatus) is inheems aan die stadiger bewegende strome van Wes-Afrika. Hierdie kleurryke vis bereik ’n lengte van ses duim (15cm) en kan meer as vyf jaar in ’n tenk leef.

Related Articles

Back to top button