Local newsNews

‘Ondersteun ons asseblief,’ smeek toerismebedryf

“Dis ’n baie moeilike tyd vir die toerismebedryf.”

Toerisme is die lewensbloed vir baie van Suid-Afrika se armste provinsies.

Ook in Limpopo, en spesifiek die Waterberg, speel toerisme ’n groot rol in werkskepping en ekonomiese vooruitgang.

Benewens gesondheidsprobleme saai die Covid-19-pandemie ook verwoesting in die ekonomie. Die toerismebedryf is een van dié wat die swaarste getref is sedert nie net landsgrense gesluit is nie, maar reise tussen provinsies ook gekortwiek is.

 

ADVERTENSIE / ADVERTISEMENT

 

Die aanlynverblyfwebwerf, Lekkeslaap, het onlangs ’n meningspeiling in die toerismebedryf gedoen wat altesame 7 262 gastehuise, hotelle en selfsorgverblyfplekke regoor die land verteenwoordig.

Die peiling het aangedui dat soveel as 28% van die verblyfplekke nie die Covid-19-krisis en die maande lange sluiting van die bedryf sal oorleef nie. ’n Meerderheid van 56,5% ondernemings het aangedui dat dit ’n groot invloed op hulle gehad het en dat die komende maande ’n opdraande stryd gaan wees. Ondernemings in Limpopo (37,5%), Noordwes (37,8%), Mpumalanga (33,5%) en die Noord-Kaap (34,2%) het aangedui dat daar ’n groot kans is dat hulle kan vou.

Ken Maud van Waterberg Toerisme in Vaalwater het aan Die Pos gesê verskeie lodges moes noodgedwonge hul werknemers verminder en daarop fokus om hul lodges te onderhou. Hy glo egter toerisme in die Waterberg sal binnekort weer kan opstaan.

“Die toekoms sal nie dieselfde wees as die verlede nie. Sake sal verander. Diegene wat kan aanpas, sal selfs sterker anderkant uitkom, want daar sal altyd ’n behoefte wees vir mense wat wil reis,” het hy gesê. “Ons glo plaaslike toerisme sal eerste wees om te herrys. Mense is moeg daarvoor om in hul huise vasgevang te wees. Terselftertyd kan hulle nie noodwendig baie geld bestee nie. Die Waterberg bied ’n aantreklike alternatief vir ’n wegbreek. Dit is slegs twee uur van Gauteng en in ’n malariavrye gebied,” het hy gesê.

“Lodges wat kan aanpas om die plaaslike mark te bedien, en ook hul prysstrukture en aanbiedings aanpas, sal oorleef. Bewaringsjag is een van die Waterberg se gewildste aanbiedinge. Talle pa’s en seuns wil graag saam met vriende tyd in die bos deurbring. Ons het reeds heelwat navrae hieroor ontvang.”

Waterberg Toerisme probeer innoverend dink oor hoe hulle die bedryf kan bystaan en het ’n projek geloods om diegene in die gasvryheidsbedryf te help om aan wetgewing rakende ontsmettings-
vereistes te voldoen. “Ons het ’n program saamgestel waarin ons opleiding aan personeel verskaf oor hoe om hul plekke te ontsmet.”

Wiets Botes, voorsitter van die Waterberg-sakekamer, het gesê hulle vat hande met Waterberg Toerisme met dié projek.

“Dis ’n baie moeilike tyd vir die toerismebedryf. Ons wil saam met hulle werk sodat ons kan help om wye bemarking vir die Waterberg te doen. Ons is naby Gauteng geleë en hier is enorme potensiaal — net soos die Kaap — vir toerisme,” het hy gesê.

“Die gasvryheidsbedryf, wat jagters insluit, is op sy knieë. Van die jagters het vroeër vanjaar gesê hulle het vanjaar van hul beste besprekings ooit gehad — en in ’n oogwink het hulle geen inkomste gehad nie. Dít nadat hulle derduisende rande daaraan bestee het om internasionale skoue by te woon om kliënte te werf. Dit is ’n groot industrie en ons moet almal inspring om hulle en die lodges in ons omgewing te bemark en te ondersteun waar ons kan.”

Die Waterberg bied alles wat ’n mens van ’n asemrowende vakansie wil hê. Geen wonder toeriste vlieg van regoor die wêreld om juis hiér te kom uitspan nie. Vanjaar is dalk die tyd om toeris in jou eie provinsie te wees en die juwele reg onder jou neus te ontdek.


Baie dankie aan André Kock en Seuns sonder wie se hulp die plasing van dié aanlynberig nie moontlik sou wees nie.

Related Articles

Back to top button