Local newsNews

‘Ons was versigtig,’ sê siek inwoner

“’n Mens kom gou agter wie jou ware vriende is — mense behandel jou dadelik anders.”

’n Positiewe toetsuitslag vir die Covid-19-virus het ’n gesin van Modimolle uiters onkant betrap.

“Ons het regtig gedink dit is griep, want ons was versigtig en het hande ontsmet en maskers gedra. Ons was nie voorbereid op die nuus dat ons onmiddellik in selfisolasie moet wees nie en het nie genoeg kruideniersware en medikasie tuis gehad nie,” het die ma van dié gesin van drie, wat verkies om anoniem te bly, die afgelope week aan Die Pos gesê.

Slegs een lid van die gesin is vir die virus getoets, maar binne ’n paar dae het die ander twee ook simptome getoon.

Die gesinslede se simptome wissel in intensiteit. Dit sluit in erge hoofpyn, naarheid, erge moegheid en ander verkouesimptome. “’n Mens skrik vir die bangmaakstories wat jy hoor. As jy hoor die uitslag is positief, voel dit soos ’n doodsvonnis. ’n Mens moet net jou kop regkry en besluit om die virus te oorwin. Die ergste vir ons is die hoofpyne wat nie wil weggaan nie. Selfs jou oë is seer wanneer jy dit beweeg,” het sy gesê.

“Baie mense gee raad soos om knoffel en heuning te gebruik, maar hulle dink nie daaraan dat ons nie uit die huis mag gaan nie. ’n Mens kom gou agter wie jou ware vriende is — mense behandel jou dadelik anders; selfs diegene met wie ’n mens telefonies sake doen.

“Ek raai inwoners aan om ’n apteekrekening te open. Dit vergemaklik die aflewering van medikasie baie,” het sy gesê.

Een van die dinge wat sy die meeste mis, is om te gaan werk. “Ek hou regtig van my werk en dit is vir my erg om nie nou te kan teruggaan nie,” het die vrou gesê.

Related Articles

Back to top button