Local newsNews

Ondersteuningsgroep vir verslaafdes gestig

Om die pad saam met gerehabiliteerde verslaafdes te stap, verg deursettingsvermoë, deernis, empatie en ruggraat.

Charlene Kapp van Mookgophong het self hierdie pad gestap en is nou iemand wat ander ondersteun en inspireer met haar liefde vir die lewe. Sy het aan Die Pos gesê sy is nou bykans vier jaar dwelmvry, maar dit verg ’n doelgerigte lewe om “skoon” te bly.

Sy het ’n behoefte vir gerehabiliteerde verslaafdes op Facebook raakgesien en op 9 Januarie 2019 ’n anonieme groep in die dorp begin om verslaafdes te ondersteun.

 

Dié pragtige kunswerk is deur Charlene Kapp van Mookgophong gedoen. Sy sê borduurwerk is, naas skryf, haar gunsteling tydverdryf.

 

“Ons groepie het twee dae later bymekaar gekom en net daar het ons ondersteuningsgroep afgeskop,” het sy vertel.

Die groep vergader weekliks waar Kapp hulle bystaan en motiveer in hul stryd teen verslawing. Daar is elke laaste Dinsdag van die maand ’n oop vergadering waar ander mense ook die byeenkoms kan bywoon.

Die pragtige vrou met die mooi blou oë en breë glimlag is nie skaam om oor haar verslawing te praat nie en het aan Die Pos gesê dat sy haar eie verwysingsraamwerk gebruik om ander in dieselfde nood te help. Sy is as tweejarige deur ’n familielid gemolesteer en die seksuele misbruik het voortgeduur totdat sy 12 jaar oud was. Sy is daarna deur ’n tannie aangeneem en het by hulle gaan woon. Sy het in haar vroeë dertigs begin dwelms gebruik en het byna haar kinders verloor deur haar leefstyl van misbruik.

Die keerpunt in haar lewe was toe sy besluit het om haar eie lewe te neem en sy het gaan hulp soek. Vandag is dit haar passie om die slegte lesse uit haar verlede aan te wend om sinvol te leef. “Ek moet die feit dat ek dit alles deurgemaak en oorleef het, gebruik om ander te help. Dit het my sterker gemaak en laat groei in my menswees. Om hulp te vra, is die eerste stap om van verslawing te genees. Vra hulp by jou dominee, dokter, onderwyser of aanlynforums,” is haar raad aan mense wat wil ophou met dwelmmisbruik of enige ander vorm van verslawing.

Kapp is ook ’n skrywer en digter en het al verskeie skryfkompetisies met haar kortverhale en sketse gewen. Een van haar stokperdjies is om handborduurwerk te doen.

Mense wat met Kapp in verbinding wil tree, kan ’n e-pos na Die Pos-koerant stuur by marietjiesteenkampb@gmail.com(.)

Related Articles

Back to top button