Local newsNews

Meer mense vra deesdae vir hulp

Hulporganisasies in die Waterberg-omgewing moet bykans weekliks hul werkwyse aanpas om in pas te bly met die uitdagings wat die Covid-19-pandemie meebring.

Waterberg Hands of Hope, ’n liefdadigheidsorganisasie onder leiding van Ina Snyman van die Koinonia-gemeente in Modimolle, bestaan reeds sedert 2013.

Janine Botha, huidige organiseerder en voorsitter, het aan Die Pos gesê baie het verander sedert hul eerste projek by die FH Odendaal-hospitaal in Modimolle. Sy was destyds ’n radiografis by die hospitaal en het betrokke geraak by die projek om kinderpasiënte en hul ouers te bemoedig en te ondersteun.

“Ek en my span vrywillige werkers het die kindersaal tydens middagete-uur besoek en ons het dadelik die nood raakgesien. Dit is sedertdien ’n voorreg om ons gemeenskap bewus te maak van die behoeftes en dan te ervaar hoe die gemeenskap na mekaar omsien. Die onbeskryflike waardering op mense se gesigte maak dit alles die moeite werd,” het sy gesê.

“Daar is nou beslis meer mense wat hulp nodig het. Ons kan ongelukkig nie tans hospitaallbesoeke doen nie weens die streng voorskrifte van Covid-19, maar ons kon wel kinderklere en komberse aan pasiënte skenk. Alle projekte by die Lerato Creché buite die dorp is ook opgeskort weens die inperking.”

Vrywilligers hou hul tans besig met die maak en verspreiding van maskers aan mense wat nood ervaar.

“Ons het ook by die Modimolle Food Drive betrokke geraak waar ons as ’n span saamwerk om ons gemeenskap van kospakkies en toiletware te voorsien, asook basiese behoeftes soos elektrisiteit, kruideniersware, gas, paraffien, klere, babaprodukte en komberse.

Die organisasie maak ten volle staat op skenkings van produkte en donasies.

“Een van ons groter projekte is die terug-skool-toe-skoenprojek. Ons werk saam met verskeie skole in die Waterberg om kinders te identifiseer wat skoolskoene benodig.”

Botha sê alle geld word gebruik om die nood van behoeftige mense te verlig. Sy nooi lesers om op hul Facebook-blad, Waterberg Hands of Hope, te gaan loer waar hulle kan help om die nood te verlig.

Vir navrae skakel Waterberg Hands of Hope by tel. 083 225 2858 of tel. 072 623 4855.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button