Local newsNews

Land­bouers staar talle uitdagings in die gesig

Ons het die bes­te boere suid van die e­we­naar, maar word nie deur die regering ondersteun met hulpfondse of veiligheid nie.

Die win­ter is hier en die plant­sei­soen vir wintergewasse het aangebreek ondanks die Covid-19-pandemie se uitdagings.

Die druk op die so­wat 30 000 boe­re land­wyd het toegeneem weens die groter behoefte na voedselsekerheid.

Henk van de Graaf, voor­sit­ter van TLU SA Noord­streek en die Warm­bad-DLU, en dr. Theo de Ja­ger, voor­sit­ter van die Saai-land­bou­or­ga­ni­sa­sie en pre­si­dent van die Wê­reldlandbou­or­ga­ni­sa­sie (WFO), het op Don­der­dag 25 Ju­nie gesels oor wat die “nuwe normaal” vir landbouers inhou.

Die ses­sie het weens die Covid-19-maatreëls deur middel van ’n Zoom-vergadering geskied.

“Die ou nor­maal vir gesaaides bly steeds die nu­we nor­maal, want boe­re kan nie net enige ge­was­se in ’n an­der sei­soen plant nie. Daar is wel ’n nu­we nor­maal vir be­mar­king en die ver­spreiding van produkte. Dit ge­beur al hoe meer dat die publiek di­rek van die boer koop,” het Van de Graaf gesê.

Die pan­de­mie het die wê­reld volgens hom in ’n war­boel verander en ver­al vir die land­bou­be­dryf uit­da­gings gebring soos die on­lang­se brand­stof­te­kort, werkloosheid en onvoldoende hulp aan alle boere.

De Ja­ger het ge­sê hoewel men­se moet eet, het hulle in hier­die tyd ge­leer om met minder klaar te kom. Varsprodukte het weer ’n herlewing beleef.

Die wêreld het “kleiner” geword en boere maak al hoe meer staat op digitale kommunikasie om die behoefte op wêreldmarkte vinnig en doeltreffend aan te vul.

“Suid-Afrika bied voor­keur­pro­duk­te en word deur ander Af­ri­ka-lan­de geloof vir ons bemarking na ander kontinente. Ons het die bes­te boere suid van die e­we­naar, maar word nie deur die regering ondersteun met hulpfondse of veiligheid nie. Landbounavorsing en tegnologiese verbetering word ook nie genoeg deur die regering befonds nie,” het De Jager ge­sê.

Van de Graaf meen daar is groot uit­da­gings wat be­leids­om­ge­wing en ­ek­onomie­se uit­spra­ke van po­li­ti­ci betref.

“Land­bou kan die land uit ’n re­ses­sie help, al is dit sei­soe­naal, maar die ras­ge­dre­we a­gen­das, soos droog­te­hulp wat slegs aan be­staans­boe­re toegeken word, skep reuseuitdagings.

De Ja­ger se reak­sie hier­op was dat verskeie Af­ri­ka-lan­de die­per in die knyp be­land weens staat­skuld. Die pandemie het tot gevolg dat daar nou nog groter lenings aangegaan word.

“Hoe­kom wil ’n mens ’n boom plant as jy weet jy gaan nie hier wees om die vrugte te eet nie? Land­bou kan op die korttermyn werk skep, maar be­leg­gings is nodig om dit volhoubaar te vestig en goeie stabiliteit en arbeidsverhoudings te handhaaf,” het De Ja­ger ge­sê.

Van de Graaf het bygevoeg dat boe­re te­vre­de moet wees met ’n al­ge­me­ne wins­mar­ge van 3% op hul pro­duk­te en indien die re­ge­ring ver­de­re druk op ge­ves­tigde boere plaas, sal dit tot gevolg hê dat kos op die rak­ke begin op­raak.

De Jager het gesê die plat­te­land kwyn weg en daarom re­spekteer hy kleiner ­boe­re wat aan­hou boer ten spy­te van ’n re­ge­ring wat hulle nie ondersteun nie.

Albei sprekers het gesê be­staans­boe­re is nie die oplossing om die land te voed nie, maar dat die hoop eerder op jong op­ko­men­de en ge­ves­tig­de boe­re geplaas moet word.

“Boere wat die nuwe uitdagings met ywer en durf wil aanpak en deur geloof ’n volhoubare boerdery wil bedryf.”

Related Articles

Back to top button