Local newsNews

Harde werk om kwesbares te help

“Die grendeltyd het ons fondsinsamelingsprojekte belemmer omdat dit meestal gegrond is op gesellighede waar mense bymekaar kom, soos basaars.”

Die hulporganisasie Rata in Modimolle het besig gebly tydens die grendeltyd, selfs al het hulle en ander hulporganisasies die nuus ontvang dat hul staatsubsidies gesny word.

“Die grendeltyd het ons fondsinsamelingsprojekte belemmer omdat dit meestal gegrond is op gesellighede waar mense bymekaar kom, soos basaars,” het Lizé Fouché van Rata gesê.

Rata is een van die organisasies wat hulp aan Klub Helpmekaar se voedingsprojek verleen het deur niebederfbare kos, skoonmaakmiddels en babaprodukte te skenk. Sodoende kon hulle 40 gesinne bystaan tydens dié moeilike tyd.

Rata het ook gehelp om rys, groentesopmengsels en lensies bymekaar te maak sodat dit as voedsame ete aan gesinne in nood uitgedeel kon word.

“Ons het ook 30 gesigsmaskers aan die kinders in gesinne geskenk wat deur Klub Helpmekaar ondersteun word voordat hulle terugkeer skool toe,” het Fouché gesê.

Dit was hul projek vir kinderbeskermingsweek. Verder het hulle handsakke en toiletware aan die inwoners van Ons Hoop-tehuis gegee en die inwoners van die Postma-woonstelle by Waterberg Residentia-ouetehuis met ’n flitsie en koekies bederf.

Die maatskaplike werkers se taak is verder bemoeilik omdat hulle nie mense in nood kon besoek nie en hulle telefonies moes bystaan. “Die situasie skep groot onsekerheid by almal. Ons is bekommerd dat mense swaarkry, maar swyg daaroor.”

Inwoners kan Rata ondersteun deur deel te neem aan hul kompetisie om ’n Datsun Go ter waarde van meer as R150 000 te wen. Die trekking is in November vanjaar en kaartjies kos R20. Meer inligting hieroor is op hul webwerf www.rata.org.za beskikbaar. Kaartjies is by hul kantoor in Kroepstraat te koop.

  • Die Pos se kinderfonds kon die afgelope week R2 000 aan Rata oorbetaal danksy skenking wat ons van elke koerant wat verkoop ontvang. Baie dankie aan ons lesers wat ons ondersteun en op dié manier ook die gemeenskap help ophef.

Related Articles

Back to top button