Local newsNews

Matrikulant gebruik grendeltyd om twéé matriekafskeidrokke te maak

“Toe ek jonger was, het ek en my niggie altyd by my ouma gaan kuier en begin popklere maak van die sak afvallappies wat sy vir ons gebêre het.”

Een van die matrikulante van Hoërskool Hans Strijdom in Mookgophong het besluit die baie lang vakansie was net die regte tyd om haar eie matriekafskeidrok te ontwerp en sommer ook te maak.

Mia Koorzen het aan Die Pos vertel sy het besluit om self haar rok te maak omdat sy bang was sy kry nie een wat in haar smaak val nie. Sy sê die koste is ook aansienlik minder as dié van ’n rok wat sy sou koop of laat ontwerp het. Sy hou daarvan om haar eie klere te maak en het haar liefde vir naaldwerk by haar ouma gekry.

“Toe ek jonger was, het ek en my niggie altyd by my ouma gaan kuier en begin popklere maak van die sak afvallappies wat sy vir ons gebêre het,” het sy vertel.

Mia het vertel sy het eintlik op ’n pragtige paar skoene verlief geraak en kon dit nie weerstaan nie. Sy het die skoene sonder huiwering gekoop en toe begin uitkyk vir materiaal wat daarby sou pas. Sy het die geskikte materiaal in haar gunstelingkleur raakgeloop en geweet dat die uitrusting haar gelaat en donker hare sal komplementeer. “Ons sien baie uit om haar rok te sien,” het een van haar maats gesê.

Sy het ook aangebied om ’n vriendin se rok te maak en is nou besig met die finale afronding aan dié tabberd.

Mia het planne om aanstaande jaar in Duitsland as au-pair te gaan werk. Sy het in 2019, toe sy 17 jaar oud was, haar lisensie as helikoptervliënier verwerf. Sy is ook ’n slimkop en het gedurende die inperkingstyd baie tyd aan haar akademie bestee.

Hoewel die Hansies se matriekafskeid eers in die weegskaal was weens die Covid-19-pandemie, het Gerda Swanepoel, graadhoof van die matrieks, hulle verseker dat daar wel ’n geselligheid sal wees om van dié besondere matriekgroep afskeid te neem.

Related Articles

Back to top button