Local newsNews

Geliefde orrelis onverwags oorlede

Hy het sy liefde vir musiek by sy pa geërf, wat self ’n amateurorrelis was en sy tante was ’n violis in ’n simfonie-orkes.

Laurens de Jong (84), geliefde en bekende orrelis van Bela-Bela, is op Woensdag 24 Junie oorlede kort nadat hy by ’n hospitaal opgeneem en ontslaan is nadat hy ’n asemnood ervaar het.

Die presiese oorsaak van sy dood is nie bekendgemaak nie.

Hy was ten tyde van sy dood orrelis by die Nederduitse Hervormde Kerk (NHK) van Afrika in die dorp.

Ds. Neels van Tonder, leraar, het De Jong se afsterwe as ’n groot verlies beskou. Hy het gesê De Jong was vir almal wat hom geken het, ’n steunpilaar.

 

ADVERTENSIE / ADVERTISEMENT

 

Ten spyte van sy gevorderde jare het hy steeds die orrel met groot passie bespeel. Hy het ook die begeleiding by Warmbad Rusoord en die Dienssentrum behartig, het Van Tonder gesê.

De Jong is in Desember 1935 as die middelste van sewe kinders in Rotterdam, Nederland, gebore.

Hy het sy liefde vir musiek by sy pa geërf, wat self ’n amateurorrelis was en sy tante was ’n violis in ’n simfonie-orkes.

De Jong het eers klavier gespeel, maar het altyd gesê dat die orrel vir hom ’n besondere bekoring ingehou het nadat hy as kind onderrig in Kanada ontvang het.

Hy het in 1968 na Suid-Afrika geëmigreer waar hy sy vrou, Barbara, ontmoet het en ses maande later in die huwelik bevestig is. Die egpaar was 52 jaar getroud.

Die egpaar het eers in Okahandja, Namibië, gewoon, waar De Jong as boekhouer gewerk het.

Hulle het twee kinders gehad, maar het hul dogter aan die dood afgestaan. Hul seun, Pieter, woon tans in Australië.

De Jong was vir 20 jaar lank orrelis by die NG Kerk Germiston Moedergemeente en Elspark, voordat die egpaar na Bela-Bela verhuis het en hy vir nog 20 jaar as orrelis by die gemeente betrokke was.

Sy gunstelingmusiekstuk was dié van Johann Sebastian Bach se Mattheus-passie.

Barbara het vertel dat haar man deur sy lewe ’n vrolike mens was. Hy het ander opgebeur, nooit gaan lê ná ’n terugslag nie en die humor in elke situasie probeer raaksien.

Pieter se goeie herinneringe aan sy pa strek terug na sy kinderdae toe sy pa hom en sy maats agter op ’n motorfiets gelaai en met hul Kaapse draaie gery het.

De Jong word onthou as iemand wat vir sy medemens omgegee het en almal gelukkig wou maak. ’n Man wat lief was vir sy gesin, sy kerk, asook sy Nederlandse en Suid-Afrikaanse kultuur.

Begrafnisreëlings was teen druktyd nog nie bekendgemaak nie.


Baie dankie aan Pavecon sonder wie se hulp die plasing van dié aanlynberig nie moontlik sou wees nie.

Related Articles

Back to top button